00031085 “My familie soek nie wraak nie,” het Kim Martin, Reeva se niggie, tydens ondervraging van die aanklaer Gerrie Nel gesê.

'My familie soek nie wraak nie.'

“Ons voel net as jy iemand se lewe neem, deur ’n deur skiet, ’n ongewapende persoon skiet, het jy voldoende straf nodig.”

Sy het gesê sy was aanvanklik bang dat die tronk sleg wees vir Oscar, maar het later besef tronke is wel geskik vir mense met gebreke.

Kim het aan die hof gesê almal het tydens die saak gely en Oscar moet tronk toe gaan weens wat hy aan hul familie, sy familie en Reeva gedoen het.

“Almal het gely. Ons moet ’n boodskap aan die samelewing stuur,” het Kim gesê.

“Ek dink nie die voorgestelde straf is paslik vir die oortreding nie.”

Tydens kruisondervraging het Oscar se prokureur Barry Roux haar gevra of sy teen tronkstraf gekant sou wees as die toestande nie menslik vir ’n gestremde persoon sou wees nie.

Sy het geantwoord dat sy nie wil hê enigeen moet onder onmenslike omstandighede leef nie.

Op 12 September is Oscar skuldig bevind aan die strafbare manslag van sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp, maar nie van haar moord nie.

Oscar het beweer hy het gedink daar is ’n inbreker in sy toilet toe hy op Valentynsdag verlede jaar vier skote deur die deur afvuur en Reeva doodskiet. Sy is in die heup, arm en kop getref.

Woensdag het die maatskaplike werker en toesigbeampte Anette Vergeer aanbeveel dat Oscar gemeenskapsdiens opgelê word.

- Sapa