Vyf mense is dood toe ’n ligte vliegtuig Dinsdag in ’n winkelsentrum in Melbourne, Australië, ingeploeg het.

Volgens berigte het die vlieënier van die gedoemde Beechcraft-vliegtuig kort voor dit neergestort het, aangedui dat die enjin “katastrofies” gefaal het. Enkele sekondes daarna het dit in ’n vuurbol ontplof toe dit die stoorruimte van die Direct Factory Outlet-winkelsentrum (DFO) langs Melbourne se Essendon-lughawe tref.  

Die vlieënier en al vier Amerikaanse toeriste aan boord het omgekom.   Twee van die slagoffers is intussen deur familie geëien as Greg de Haven (70), na bewering ’n afgetrede FBI-agent, en Russell Munsch, medestigter van die Munsch Hardt-regsfirma. Albei was van Texas.  

Greg se suster het die slegte nuus op Facebook gedeel met die woorde: “Liewe vriende en familie, my aantreklike atletiese ouer broer het vandag in ’n vliegongeluk gesterf terwyl hy op sy ‘een keer in ’n leeftyd'-reis na Australië was.

’n Familielid van Russell, Carol Holst, het ’n foto van hom aanlyn gedeel met die woorde: “Russ het vandag in Australië in ’n vliegtuigongeluk gesterf. Gee jul geliefdes ’n drukkie. Jy weet nooit nie . . . “  

Die derde slagoffer is die entrepreneur Glenn Garland, ook van Texas. Sy laaste inskrywing op Facebook vertel van gholfrondes op Kingston Heath en Sondag op Royal Melbourne. Hy beskryf die stad as ’n “manjifieke en ongelooflike” plek.

Een van sy vorige inskrywings op sy blad dui daarop dat hy nie baie gek is oor ligte vliegtuie nie.

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat die toeriste se vroue saam met hulle op hul reis was. Hulle so glo die Great Ocean Race-roete doen terwyl die mans gaan gholf speel op Kings-eiland. Dié eiland is tussen Victoria en Tasmanië geleë.

Berigte dui daarop dat Max Quartermain (63), mede-eienaar van die huurvliegtuigmaatskappy Corporate and Leisure Aviation, die vlieënier was. Hier is videomateriaal van sy laaste vlug enkele dae voor die rampvlug.   Dit word as die ergste vliegramp in 30 jaar in die staat van Victoria beskryf. Wrakstukke van die vliegtuig is tot 200 m ver van waar dit die sentrum getref het, gevind.  

’n Ooggetuie, ene Jason, het aan ABC Radio Melbourne gesê dat die vliegtuig hopeloos te vinnig ingekom het. Hy het ook ’n wiel, wat soos dié van ’n vliegtuig lyk, op die pad sien bons.

Een van die sentrum se werknemers, Angelo Tsatas, het glo aan sy medewerkers gegil dat die vliegtuig besig is om te val.

“Ons het brandblusssers gegryp en soontoe gehardloop . . . maar dit was té warm toe ons daar aankom.

“Ons het die bestuurskajuit probeer oopmaak, maar die vlamme was te intens, bande het gebars . . . twee motors was aan die brand.”

Bronne: news.com.au, au.news.yahoo.com, metro.co.uk, heraldsun.com.au