’n SuperMa soek hulp

Ons het onlangs ’n innige pleidooi vir hulp ontvang van ’n SuperMa wat naby Oudtshoorn in die Wes-Kaap woon. Ná ’n magdom toeste en afsprake met nie minder nie as vier pediaters, is daar eindelik spraakapraksie by haar vierjarige seun gediagnoseer. Dit blyk ook sy koördinasie- en konsentrasievermoë is nie op dieselfde vlak as sy portuurgroep nie. Hy woon ’n Montessori-skool by, en sy ma verduidelik dit help baie. Sy neem hom en sy tweejarige broer, wat ’n gehoorprobleem het, elke week vir speel- en arbeidsterapie. By die huis probeer sy hom met verskeie ontwikkelingsaktiwiteite help.

Ongelukkig het die leser onseker gevoel oor haar nodige kennis van die toestand ná ’n onlangse ontmoeting in ’n winkelsentrum met ’n vrou wat ongeskikte aanmerkings oor haar seun gemaak het. Die spraakterapeut Nadia Coetzer van Corli Hanekom Speech and Language Therapists in Kaapstad het haar (en ons) vrae beantwoord.

Wat is spraakapraksie?

“Verbale apraksie of spraakapraksie is in wese ’n probleem met spraakbeplanning. Om dit eenvoudig te stel: Die brein weet wat dit wil sê, maar sukkel om die nodige bewegings van die mond te beplan vir die woorde om uit te kom. Dit is dus ’n neurologiese toestand en kinders met spraakapraksie gaan dikwels goed verstaan wat jy sê en aanwysings kan volg, maar sukkel om te kommunikeer.”

Wat veroorsaak dit?

“Om verwarring uit die weg te ruim, is daar twee soorte apraksie: een is ontwikkelingsapraksie, en die ander is verworwe apraksie; dit word gewoonlik aangetref in volwassenes en manifesteer gewoonlik ná ’n besering of beroerte. Die oorsaak van ontwikkelingsapraksie, wat in kinders aangetref word, is nog nie bekend nie.”

Kan my seun genees word?

“Ja, genesing is moontlik, maar elke kind is uniek en dit is ’n lang proses wat baie terapie behels. Kinders met die toestand het gereelde spraakterapie nodig om te leer praat.”

Word Ritalin of Respiradol algemeen hiervoor voorgeskryf? ’n Onderwyser het dit voorgestel, maar ek wil nie hê my kind moet dit neem nie.

Dr. Adelaide Andrade, ’n algemene praktisyn van Kaapstad, beveel aan die ma bespreek haar kind se toestand met ’n pediatriese neuroloog. “Die kans bestaan dat die kind ’n aantal toetse moet ondergaan om te bepaal wat nodig is. Die voorskrif sal afhang van die uitkoms van daardie toetse en die kind se spesifieke behoeftes.”

Kan ’n Omega 3-aanvulling help met breinfunksie en konsentrasie?

Party ma’s, veral dié van kinders met hiperaktiwiteit of ’n aandaggebreksteuring, glo vas aan Omega 3-aanvullings, maar volgens dr. Andrade moet die positiewe uitwerking nog deur kliniese studies bewys word. “Gewoonlik ontvang ’n kind met dié soort toestand ook ander behandeling, soos spraak- en arbeidsterapie. Dit belemmer studies wat beslissend kan sê dit was die aanvulling wat ’n verbetering teweeggebring het.”

Hoe beantwoord ek vrae wanneer mense voor my seun aanmerkings oor die toestand maak?

Nadia sê die belangrikste is om so ingelig moontlik te wees. “Gewoonlik sê iemand iets omdat hulle nie die situasie verstaan nie. As jy dit op ’n vriendelike, ferm manier kan verduidelik, gaan dit hulle met die nodige kennis toerus en dit makliker vir jou en jou kind maak.” ’n Goeie houding gaan ook jou kind laat besef dit is nie iets om oor skaam te wees nie, net iets wat verduidelik moet word.

Waar kan ek nog hulp kry?

Nadia beveel die webtuiste aan. Dit is ’n goeie hulpbron vir nog inligting oor die toestand. Die webtuiste bevat voorbeeldbriewe wat aan onderwysers gestuur kan word wat jou kind se toestand verduidelik. Dit het ook brosjures met noodsaaklike inligting vir ouers.

Sy stel ook die volgende artikel voor, wat van haar verwarring as spraakterapie-student oor apraksie uit die weggeruim het.

- Dalena Theron

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.