Vier Suid-Afrikaanse dokters is onlangs van strafbare manslag aangekla nadat ’n tweejarige seuntjie ná ’n tonsillektomie (mangeloperasie) gesterf het. Klein Jaundré Bennett (2) is op Vrydagoggend 4 Mei 2012 oorlede nadat sy mangels die vorige dag in Vereeniging se Mediclinic verwyder is. Die vier dokters betrokke by sy operasie het op 27 Mei in die hof verskyn en hul saak gaan volgende jaar begin. Lees die hele storie hier. Ons vertel jou alles wat jy moet weet oor mangels, hoekom dit dalk verwyder moet word, hoe die operasie uitgevoer word en wat die moontlike gevare is.

Wat is mangels?

Mangels is kliertjies in die keel, een aan elke kant. Hulle tree op as filters en help jong kinders se liggaam infeksies beveg. Rondom driejarige ouderdom raak die funksie van die mangels minder belangrik en begin dit krimp. As dit dus gereeld siekte veroorsaak, sal dokters dikwels verwydering voorstel.

Wat is die simptome van mangelontsteking?

  • Seer keel
  • Pyn of ongemak wanneer jy sluk
  • Koors
  • Geswolle limfkliere in die nek

Hoekom moet mangels verwyder word?

By party kinders raak die mangels dikwels ontsteek, wat swelling en kwaai pyn kan veroorsaak. Wanneer mangels vergroot, kan dit asemhaling bemoeilik. Party dokters glo ook groot mangels en adenoïde is verwant aan ’n toestand genaamd gom-oor, waar ’n taai uitskeiding die middeloor blokkeer.

Is ’n tonsillektomie die enigste antwoord?

As jou kind sukkel om asem te haal of gom-oor ontwikkel, is dit dalk beter om hul mangels te laat verwyder. Maar as hul mangels of adenoïde net ontsteek is, kan jy wag en kyk of dit opklaar.

Hoe om vir ’n tonsillektomie voor te berei

Net soos met volwassenes reageer kinders verskillend op operasies. Maar tref voorsorg as jy weet jou kind gaan pyn hê en nie skool kan bywoon nie.

Dit is baie belangrik om jou dokter te vertel van enige bloeding- of kneusprobleme in jou familie se mediese geskiedenis.

Laat weet ook as jou kind die dag voor die operasie ’n seer keel het; dit sal dan raadsaam wees om dit uit te stel tot hulle beter voel.

Hoe word die operasie uitgevoer?

Jou dokter gaan jou al die relevante inligting gee, insluitend die tyd dat jou kind die aand voor die operasie moet ophou eet en drink. Jou kind gaan die dag van die operasie in die hospitaal opgeneem word; julle sal heel waarskynlik die oggend sesuur moet aanmeld.

As jou kind voor die operasie angstig of huilerig is, kan die narkotiseur ’n pre-medikasie voorskryf. Maar die meeste narkotiseurs vermy dit omdat dit die kind ná die operasie naar maak. Bespreek dit met hulle wanneer hulle jou voor die operasie in jou kamer kom besoek.

Die mangels word deur die mond verwyder terwyl jou kind onder narkose is. Die prosedure duur sowat 20 minute, waarna hulle na die herstelkamer geneem word. Jy kan in die wagarea buite die teater wag en die verpleegster vergesel wat hulle weer na die kamer neem.

Wat gebeur ná die operasie?

Die meeste kinders is baie verward nadat hulle uit die teater kom; moet dus nie verbaas wees as jou kleintjie huilerig en bakleierig is nie. Wanneer hulle eers ’n bietjie meer ontwaak het en aan hul omgewing gewoon geraak het, sal hulle kalmeer. Maar wees geduldig; dit kan tot ’n uur duur.

Jou kind gaan die paar dae ná die operasie die volgende ervaar:

  • ’n Seer keel: Gee die pynstillers wat deur jou dokter voorgeskryf is – jou kind hoef nie pyn te hê nie. Moenie jou kind aspirien gee nie; dit kan bloeding veroorsaak. (Aspirien is nie veilig vir kinders onder 16 nie tensy deur ’n dokter voorgeskryf.)
  • Seer ore: Dit is normaal. Dit gebeur omdat die keel en ore dieselfde senuwees het.
  • ’n Wit keel: Dit is normaal terwyl die keel gesond raak. Jy kan ook klein gare in jou kind se keel sien – dit word soms gebruik om bloeding te help stop en gaan vanself uitval.

Onthou:

  • Laat jou kind normaalweg eet: Normaal eet, selfs aartappelskyfies, en enige vloeistof, selfs gaskoeldrank, gaan jou kind se keel help gesond raak. Jou kind moet natuurlik ook eet as hulle pynstillers drink. Soms help kougom ook met ’n seer keel of ore.
  • Onthou die vloeistowwe: Moedig jou kind aan om baie vloeistowwe te drink. Hulle kan ook baie jellie en jogurt eet, maar kan normaal ook eet.
  • Vermy sitrus: Vermy suur kosse soos suurlemoen, lemoen en pomelo; dit kan jou kind se keel irriteer.
  • Party kinders kry ’n keelinfeksie ná die operasie: Dit gebeur gewoonlik wanneer hulle nie reg eet nie. As dit gebeur, kan jou kind koorsig wees en hul keel sleg ruik.
  • Moenie bloeding ignoreer nie! As jy enige bloeding in jou kind se keel opmerk, moet jy so gou moontlik by ’n dokter uitkom.
  • Hou jou kind 10 tot 14 dae by die huis: Maak seker jou kind rus weg van skares, rokerige plekke of mense met verkoues of ander siekte. Jou kind kan ook die eerste paar dae moeg voel.

- Janine Nel

Bronne: health24.com, aboutkidshealth.ca, foxnews.com, parents.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.