IN DIE voorkamer sit ’n gesin en koes vir sokkerballe wat skynbaar reguit uit die TV-skerm op hulle afpyl.

Dis stikdonker buite, maar almal op die rusbank sit met sulke eienaardige donkerbrille op. Vreemd...

Maar hier voor die kassie word selfs dié met die dorste verbeelding weggevoer deur die wonderbaarlike driedimensionele wêreld wat deur hul splinternuwe 3D-TV geskep word.

En dis nie ’n toekomstoneeltjie nie – dis reeds in plaaslike winkels beskikbaar, teen enigiets van R23 000 tot meer as ’n hemelhoë R80 000.

Maar met so ’n meneer in jou sitkamer speel die aksie nie net daar op Nuweland of Loftus af nie. As ’n bal pale of doelhok toe geskop word, lyk dit kompleet of dit by jou kop verby deur die ruit gaan trek.

En met die aandnuus woed die oorlog nie net derduisende kilometers ver in die Midde-Ooste nie; die koeëls skiet hier in die sitkamer deur die skerm.

Later vanaand kan die gesin weer regsit met hul 3D-brille as Avatar op TV wys, want dis immers dié tegnologies waterskeidingsprent van James Cameron wat van 3D – iets wat 120 jaar gelede al begin het – weer vuurwarm nuus gemaak het.

Intussen het 3D-teaters oral in die land opgeskiet en 3Dflieks stroom die land in, want dié flieks verdien gewoonlik tot drie keer meer by die loket as hul 2D eweknieë.

En nou is 3D-TV hier. En by sommige winkels is daar reeds waglyste van tot duisend gretige kopers. Maar is dit regtig die moeite werd?

Lees meer in die Huisgenoot van 5 Augustus 2010