Vratte is geweldig algemeen en word deur ’n virus in die vel veroorsaak. Verskillende vratte kan op verskillende plekke voorkom.

Voorbeelde sluit in:

  • Algemene vratte: Dis die algemeenste soort en kom dikwels op kinders se hande en knieë voor.
  • Plat vratte: Hulle is gewoonlik veelvuldig op veldele wat geskeer word.
  • Filiforme vratte: Dit verskyn as vingeragtige groeisels op die ooglede, langs die mond en op ander dele van die gesig.
  • Genitale vratte: Dit kom in die genitale areas voor en kan soos klein, blomkoolvormige groeisels lyk.
  • Soolvratte: Dit kom op die voetsole voor en kan dikwels pynlik wees.

Só behandel jy vratte

  • Die meeste vratte verdwyn spontaan binne twee tot drie jaar, veral by kinders. Dit is nie ’n ernstige toestand nie, maar kan na ander dele van die liggaam versprei en tot sosiale ongemak lei.
  • Dis belangrik om die verspreiding van die virus te verhoed. Moenie ’n vrat krap of daaroor skeer nie. Dra voetbedekking in storte en saunas. Vermy ook onnodige kontak met iemand anders se vratte.
  • Dit is beter om ’n dokter te besoek as jy onseker is oor die diagnose, as vratte pynlik is en as vratte in die genitale area voorkom.
  • Selfbehandeling behels soms die aanwend van ’n produk wat salisielsuur en/of ander afdop- en velversagtende bestanddele bevat.
  • Behandeling met silwernitraat, in die vorm van ’n potlood, is stadig en kan ná maande eers werk. Ongelukkig is die behandeling ook dikwels onsuksesvol.
  • Die algemeenste doktersbehandeling is om die vratte te vries met vloeibare stikstof (krioterapie).