Wat is Tourette-sindroom en hoe kan jy jou kind help of ander wat dit het ondersteun? Ons antwoord die algemeenste vrae en gee wenke wat werk.

Wat is dit?

Tourette-sindroom is ’n neurologiese toestand (’n toestand wat die senustelsel aantas) wat gewoonlik in die kinderjare begin. Dit behels ongewone, herhalende bewegings of ongevraagde geluide wat nie beheer kan word nie (sogenaamde senutrekkings of “tics”). Die siekte is genoem na die Franse neuroloog wat dit eerste in 1885 beskryf het, dr. Georges Gilles de la Tourette.

Wie kry dit?

Die simptome word gewoonlik in die kinderjare opgelet en die gemiddelde ouderdom waarop Tourette-sindroom begin, is 7 jaar. Seuns  se risiko vir die sindroom is drie tot vier keer groter as meisies s’n, en as jy ’n familiegeskiedenis van die sindroom het, is die risiko ook groter.

Vir party mense is Tourette-sindroom ’n chroniese toestand en die simptome duur hul hele lewe lank. Die meeste mense met die toestand se simptome is die ergste tydens hul vroeë tienerjare.

Tourette-sindroom is algemener as wat dokters vroeër gedink het. Omtrent een in 2 500 mense het die sindroom, al toon heelwat meer mense van die kenmerke, soos chroniese bewegings of obsessiewe gedagtes.

As iemand Tourette-sindroom het, is die kans ook goed dat hulle ook van die ander verwante toestande het, soos aandagafleibaarheid, obsessief-kompulsiewe steuring, leerprobleme, slaapsteurings, depressie of angssteurings

Wat behels die simptome?

Die senutrekkings word geklassifiseer as eenvoudig of kompleks, en kan verder motories (met beweging te doen) of mondelings wees.

Eenvoudige senutrekkings is skielik, kortstondig en herhalend en dit betrek ’n beperkte aantal spiere. Dit sluit simptome in soos: oë knip, skouers ophaal, oë wat rondkyk, tong uitsteek, ’n rukbeweging van die kop (motories) of  hik, skree, keel skoonmaak, blafgeluide (mondelings).

Komplekse senutrekkings is duidelike, gekoördineerde bewegingspatrone wat verskeie spiergroepe insluit. Voorbeelde hiervan is: raak aan die neus, ruik voorwerpe, op en af bons, aan ander mense raak (motories) of verskillende stemtone gebruik, eie woorde of frases herhaal, ander se woorde of frases herhaal, of vulgêre of vloekwoorde gebruik.

Wat behels behandeling?

Daar is nie ’n geneesmiddel vir Tourette-sindroom nie.

Omdat die senutrekking-simptome gewoonlik nie skadelik is nie, kry die meeste mense met Tourette-sindroom nie medikasie vir die onderdrukking daarvan nie. Maar vir dié mense wie se senutrekkings te veel inmeng met hul daaglikse aktiwiteite en funksionering, is daar ’n verskeidenheid neuroleptiese medikasie beskikbaar. Voorbeelde hiervan is haloperidol of flufenasied. Een soort medikasie sal nie vir almal werk nie, en daar is nie ’n soort medikasie wat simptome heeltemal kan uitwis nie. Die kans is ook goed dat dit newe-effekte sal hê.

Botoks-inspuitings in die geaffekteerde spier kan moontlik help met eenvoudige senutrekkings.

Dit kan ook ’n goeie idee wees om psigoterapie te kry. Sielkundige probleme veroorsaak nie Tourette-sindroom nie, maar dié sindroom kan wel tot sekere sielkundige probleme lei. ’n Opgeleide persoon kan jou kind die sosiale en emosionele probleem help hanteer wat hy dalk kan ervaar.

Hoe help ek my kind?

  • Wees ingelig. Leer soveel moontlik van die sindroom; moenie bang wees om jou dokter te vra as daar iets is waaroor jy wonder nie.

  • Lig ander in. Maak afsprake met jou kind se onderwysers, die ouers van maatjies of ander mense met wie hulle gereeld in aanraking kom. As hulle ook ingelig is oor wat die sindroom behels, sal dit help met situasies wat potensieel ongemaklik of moeilik kan wees.

  • Bou jou kind se selfbeeld op. Die grootste effek wat die senutrekkings op jou kind se lewe sal hê (as hy onskadelike senutrekkings het) is dat dit vir hulle ’n verleentheid sal wees. Kinders kan huiwerig wees om betrokke te raak by sosiale aktiwiteite, wat kan lei tot isolasie. Ondersteun jou kind se belangstellings en vriendskappe, want dit sal bydra tot hul selfbeeld.

  • Kry ondersteuning. Hoor by jou dokter of daar ’n ondersteuningsgroep in jou omgewing is. As daar nie is nie, oorweeg dit om een te stig. Die internet is ook ’n bron wat jou kan help. Kyk byvoorbeeld hier (tsa-usa.org/aPeople/Parents/parents.html) vir die webtuiste van die Amerikaanse Tourette-sindroom-assosiasie en die raad wat hulle het vir ouers van kinders met Tourette-sindroom.

  • Probeer spanning help verlig. Al is Tourette-sindroom ’n neurologiese toestand (en dus nie deur eksterne faktore veroorsaak word nie), stem baie ma’s saam dat stresvolle situasies hul kinders se simptome veroorsaak.

  • Pas die dieet aan. Al is dit nog nie onomwonde bewys nie, is dit dalk ’n goeie idee om potensiële kosallergene uit te skakel. Dit sluit in suiwelprodukte, eiers, neute, skulpvis, gluten en preserveermiddels. Vermy ook kafeïen.

  •  Maak seker jou kind kry oefening. Mense wat neurologiese toestande soos Tourette-sindroom het en gereeld oefen, is geneig om minder simptome te toon. Dit kan ook help met jou kind se gemoedstoestand.

- Suzaan Hauman

Bronne: Medicinenet.com, childmag.co.za, health24.com, mayoclinic.com, tsa-usa.org

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.