Die pas van ’n oorpypie is een van die algemeenste operasies wat ma’s mee te doen gaan kry. Hierdie piepklein buisies bied nie net verligting van middeloorinfeksies nie, dit kan ook ander, ernstiger komplikasies soos breinskade voorkom. Ons paneel oor-, neus- en keelchirurge (ONK’s) is seker daarvan dat dié prosedure vinnig en pynloos is. Hulle antwoord ook ander vrae wat gereeld opduik.

Wanneer moet ’n kind met die toestel toegerus word?

Dr. Ismail Khaleel, ’n ONK-chirurg van Johannesburg, sê: “Die kind moet dit kry wanneer daar ’n oorinfeksie is wat gedurig terugkeer, of wanneer daar mukus of etter in die middeloor is.” Kinders wat meer as drie keer per jaar oorinfeksies kry, sal baat vind hierby.

Hoekom moet my kind die operasie ondergaan?

Oorpypies ventileer die oor kunsmatig deur lug in te laat, verduidelik dr. Azgher Karjieker, ’n ONK-chirurg van Kaapstad.

Kinders wat nie die toestel kry wanneer nodig nie, loop die risiko vir oortromperforasie, gehoorverlies en gereelde oorinfeksies, sê hy.

’n Gereelde oorinfeksie kan in seldsame gevalle mastoïditis, breinvliesontsteking en absesse in die brein tot gevolg hê.

Jou kind kan boonop geleenthede vir hoor- en spraakontwikkeling misloop omdat hy ’n gehoorprobleem het, sê dr. Martin Young, ’n ONK-chirurg van Knysna.

Wat behels die operasie?

“Die kind word onder narkose geplaas. Die chirurg gebruik dan ’n mikroskoop om die oortrom te ondersoek. Hy maak dan ’n gaatjie van 3 mm in die oortrom,” verduidelik Martin. “Hy verwyder dan enige vloeistof in die middeloor, en plaas ’n oorpypie (’n buisie omtrent so groot soos die kop van ’n vuurhoutjie met flense weerskant) in die gaatjie om dit oop te hou.

“Hierdie gaatjie vervul die foutiewe buise van Eustachius se funksie. Die pypie staan ook as ’n ventilasiebuis bekend omdat dit lug in die middeloor toelaat en onmiddellik gehoor verbeter.”

Wat is die risiko’s verbonde?

Volgens Martin is daar altyd ’n risiko verbonde aan ’n prosedure wat narkose vereis, maar in hierdie geval is die prosedure relatief vinnig en die risiko’s daaraan verbonde is laag.

“In seldsame gevalle kan die oorpypie te gou uit die gaatjie val, in die middeloorholte val of ’n gaatjie in die oortrom laat wanneer dit wel uitval. Soms sal die liggaam reageer op die teenwoordigheid van die toestelletjie; die area word dan ontsteek en kan lek. In so ’n geval word dit verwyder. In vergelyking met die voordele is dit alles klein risiko’s.”

Is dit pynlik?

In uiters seldsame gevalle word dit so pynlik dat dit verwyder moet word, maar dit is dikwels minder pynlik as die toestand wat dit moet verlig, sê Ismail. “Dit verlig eintlik pyn,” sê hy.

Hoe lank bly dit in die oor?

Dit hang af van die tipe toestel, maar volgens Ismail duur dit tussen agt maande en ’n jaar voor dit uitval. “Dis baie weinig dat ons dit self moet verwyder,” voeg hy by.

Volgens Martin kan ’n ONK-chirurg ’n soort oorpypie voorstel wat langer inbly.

Kan kinders daarmee swem?

’n Kind met oorpypies moet dit vermy om hul kop in vuil of seperige water te druk, byvoorbeeld in die bad, ’n swembad, riviere of damme, sê Martin. “Die kind moet ten alle tye oorproppies dra. Dit keer dat water deur die opening gaan en die middeloor binnegaan. Daar kan dit pyn en moontlike infeksie veroorsaak. ’n Oudioloog kan oorproppies pasmaak, of dit kan by ’n apteek gekoop word. Wees versigtig met Prestik en silikonwaksproppies; dit kan in die oorkanaal vassit en narkose is nodig om dit te verwyder. Geen ander aktiwiteite is problematies nie.”

- Petro-Anne Vlok