Daar is al baie gesê oor die gesondheidsvoordele van rooibostee, maar is dit ook goed vir kinders? Ons praat met die dieetkundiges Carla Smith en Robyn Rees om uit te vind wat die voedingswaarde van rooibos is – vir kinders van alle ouderdomme.

Rooibos vir babas

Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Nasionale Gesondheidsdepartement beveel aan dat babas die eerste ses maande van hul lewe eksklusief geborsvoed word. Maar wat kan jy jou ouer baba gee om te drink?

“Rooibostee is ’n beter opsie as gewone tee en koeldrank omdat dit kafeïenvry is en baie anti-oksidante bevat, wat goed is vir kinders en volwassenes se immuunstelsel,” sê Robyn.

Tog waarsku sy ten spyte van sy gesondheidsvoordele moet die tee nooit as ’n plaasvervanger vir melk gebruik word nie, want dit bevat nie dieselfde voedingstowwe nie, soos kalsium en vitamien D.

’n Gesonde drankie vir ouer kinders

Rooibostee is ’n goeie alternatief vir versoete koeldranke omdat dit hidreer sonder die ekstra kalorieë. Jy kan vrugtesap ook met koue rooibostee verdun.

Vermy suiker in die tee en voeg net melk by as jou kind ouer as een jaar is en nie laktose-intolerant is nie.

Die voordele van rooibostee

Carla sê rooibostee verhoog ’n kind se energievlakke, maar anders as kafeïen is dit nie skadelik nie.

“Dit kan allergieë by jong kinders en volwassenes verminder en voorkom. Dit word ook gebruik om die immuunstelsel ’n hupstoot te gee. Dit verminder ook stres en verlig slapeloosheid. Dit wonderlik om ná sportaktiwiteite te drink om die liggaam aan te vul.”

Sy voeg ook by dat dit kwale soos maagkrampe, rusteloosheid, stres en koliek verlig.

“Kinders wat aan allergieë ly, kan dit as ’n voorkomingsmaatreël drink. Rooibostee is ook wonderlik vir kinders wat sukkel om gesonde slaappatrone te volg of sukkel met seerkeel of verkoue,” sê Carla.

Sy beveel nie meer nie as drie tot vier koppies aan vir tieners en een koppie vir kleiner kinders.

- Haseenah Aboo