Die vroedvrou Joann Lugt bied voorgeboorteklasse aan by die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad. Sy sê sy is geïnspireer om ’n paar van die mites agter borsvoeding – en die waarheid agter elkeen – neer te skryf nadat sy die niksvermoedende ouers in haar klas aanhoudend dieselfde verkeerde inligting hoor herhaal het.

“Ongelukkig is daar verpleegsters wat nie alles oor borsvoeding weet nie. Hulle bedoel goed, maar nuwe ouers moet seker maak hul voed hulself op voor hulle net enige raad aanvaar. Die waarheid is, borsvoed is ’n vaardigheid, en dis maklik sodra jy dit onder die knie het, maar jy moet jouself inlig.”

Hier is net 10 van die mites wat Joann sê sy baiemaal al gehoor het:

  1. As ek sukkel, beteken dit ek het nie melk nie of kan nie borsvoed nie. Vals. “Borsvoed is dalk instinktief vir jou nuwe baba, maar ma’s moet dit beskou as ’n aangeleerde vaardigheid; dit gaan ’n bietjie tyd, oefening en deursettingsvermoë kos. Maar dit is vir elke ma normaal en as jy volhard, gaan jy heel waarskynlik slaag.”
  2. As my baba elke uur drink, of skielik elke uur begin drink nadat hulle op ’n skedule was, beteken dit ek het nie genoeg melk nie. Vals. “Die wonderlike ding van babas is dat hulle gehalte en hoeveelheid borsmelk reguleer. Daar is in onlangse studies bevind die speeksel in ’n baba se mond ‘kommunikeer’ met jou melkkliere sodat hulle weet wat die baba nodig het. Hoe meer ’n baba drink, hoe meer melk gaan jy vervaardig. Dit is moontlik dat jou baba ’n groeiversnelling ervaar en meer drink om jou melk te vermeerder.” Sy sê dit is ook baie normaal vir pasgebore babas om so baie te drink, want hulle “lei jou borste op” om genoeg melk vir hulle te vervaardig.
  3. Ek het plat tepels, dus moet ek ’n tepelskild gebruik. Vals. Joanne sê die enigste tepelvorm wat dalk probleme sou ervaar (al beteken dit hulle kan nie borsvoed nie), is ingetrokke tepels. “As jy onseker is oor die vorm van jou tepel, kan jy ’n bietjie koue water daaroor sprinkel. As hulle verhard en óf uitstaan óf plat bly, is alles reg. As hulle intrek in die bors, gaan jy dalk hulp nodig het.”
  4. My melk lyk waterig; dit beteken dit is nie sterk genoeg om my baba te voer nie. Vals. Soos in die tweede punt genoem, bepaal die baba waaruit die borsmelk bestaan. Die borsmelk is ook so geformuleer dat dit jou baba presies gee wat hy nodig het. “Baiekeer vertoon die eerste voedsame druppels waterig, en die dikker melk kom uit wanneer jou baba reeds drink.”
  5. Dit is normaal om seer tepels te hê. Vals. “Birsvoed moet nie pynlik wees nie.” Sy sê pyn is gewoonlik ’n teken van ’n swak hegting tussen die baba se mond en die bors. Sy voeg by dit is noodsaaklik dat die baba by elke voeding goed aan die bors heg. “Een voeding met ’n swak hegting is genoeg om jou tepels te beskadig of seer te maak; dit gaan die volgende voedings net moeiliker maak.” Kry onmiddellik hulp as jy hiermee sukkel.
  6. Borsvoeding gaan my borste laat hang. Vals. Tydens swangerskap vervaardig ’n vrou se liggaam die hormoon relaksien wat ligamente makliker laat rek om die baba se groei en geboorte te vergemaklik. Cooper se ligament hou jou borste “op”, en dit word ook deur relaksien beïnvloed. “Dra tydens swangerskap ’n ondersteunende bra. Jou borste is dan groter, en dit plaas druk op jou Cooper se ligamente; dit kan jou borste laat hang. Borsvoeding veroorsaak nie hangborste nie, maar jou borsgrootte kan wissel.”
  7. Ek moet my borste op borsvoeding voorberei. Vals. “Die vel rondom jou tepel en areola is reeds perfek vir borsvoed. Die vel moet elasties en rekbaar wees terwyl jou baba heg. Rate soos suurlemoensap, skrop of in die son lê, is skadelik en voorkom nie seer tepels nie. Net ’n goeie hegting by elke voeding kan dit doen.”
  8. Ek moet my baba se voedings aanvul met formulemelk wanneer ek weer begin werk. Vals. “Onthou, hoe meer jy borsvoed, hoe meer melk vervaardig jy. As jy gaan begin aanvul, gaan jy minder melk vervaardig. Pomp eerder een of twee keer per dag en bêre die melk vir jou baba.”
  9. Borsvoed tot op ses maande is meer as genoeg. Vals. Terwyl jou baba baie van die eerste paar maande se voeding kry, beveel die Wêreldgesondheidsorganisasie amptelik aan dat ma’s tot op ses maande eksklusief borsvoed, dan ander kosse begin inbring en steeds borsvoed so lank dit vir julle albei werk. Jou borsmelk is die belangrikste kos vir jou baba en die voedingsvoordele is daar so lank jy borsvoed. Hoe langer, hoe beter.
  10. Ek moet my baba bottelvoer, want hulle kan nie heg nie/Ek moet my baba in die kinderkamer los terwyl ek in die hospitaal is sodat die verpleegsters hulle kan bottelvoer. Vals. Joanne sê heg aan ’n bottel kan borsvoeding kompliseer. “Die manier waarop ’n baba heg en die melkvloeitempo verskil tussen ’n bottel en ’n bors,” sê sy. “Jy wil nie verwarring veroorsaak terwyl jy en jou baba borsvoeding onder die knie probeer kry nie. Dit is ook beter dat jy en jou baba heeltyd saam is, selfs snags in die hospitaal. Dit help dat jy jou baba se behoeftes verstaan en verhoed dat die baba skeidingsangs ervaar, wat skadelik is.”

Kry hulp:

  • Joanne stel voor jy kry onmiddellik hulp as jy sukkel met borsvoeding. Sy beveel www.lalecheleague.org voor. Hulle het groepe die wêreld oor, ook in Suid-Afrika.
  • ’n Goeie babakliniek, vroedvrou of laktasiekonsultant kan ook help.

- Dalena Theron

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.