HAAR “stukkie Londen” sit net binne die ingang na die Pretoria landdroshofgebou. “Cafe Caught, soos in gevang,” verduidelik Hannatjie Jansen van Rensburg die stukkie ironie in haar knus restaurantjie se naam.

Die fyn gryskopvroutjie se lag kom maklik. “Ek is vreeslik lief vir reis en gaan minstens twee keer per jaar oorsee. Lyk die plekkie nie vir jou soos iewers in Europa nie?” vra sy oor die eetplekkie wat sy die afgelope sewe jaar besit.

Hannatjie se restaurant is die plaaslike invalplek, waar landdroste, staatsaanklaers en prokureurs aanklop vir koffie, ’n vinnige wegneemete van ’n russian and chips of ’n hoenderborsie met slaai.

Maar Cafe Caught is nie net Hannatjie (68) se aftreefonds nie, dis haar unieke venster op die gebeure hier in die donker gange van die hof. Dis nie net die regsgeleerdes wat hier gesig wys nie, ook die beskuldigdes en hul families kom hierlangs. Soos die Pistorius-familie, wat die Paralimpiese held Oscar Pistorius hier kom ondersteun het tydens sy borgtogaansoek in Februarie vanjaar.

Ons het met Hannatjie gaan gesels kort voor Oscar se jongste verskyning, toe die amptelike klagstaat op hom beteken is weens die dood van sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag vanjaar.

“Jong, die prokureurs het hier uit die kafee gewerk,” onthou sy. “Ons moes ’n ekstra tafel net vir Oscar se broer en sy regsmense indra. Net daar,” beduie sy na 'n hoek. “Hulle het vreeslik op die selfone gepraat en gebel. Sien, daar was nie plek vir almal in die hof nie en dan bel hulle die mense buite vir raad en om hulle op hoogte te hou.”

Ja, die familie was ook hier, knik sy. “Dit was ’n getraumatiseerde klomp. My destydse bestuurder het die eerste oggend na sy broer, ja, Carl, toe gestap en hom sterkte toegewens. Hy het net gesê: ‘Dankie, ek het dit nodig.’ Die broer was baie vriendelik. Die klomp was baie gou ná die hofsaak altyd in die restaurant.”

Wat die regsmense met “die mense daar buite” bespreek het, weet Hannatjie nou nie. “Kyk, ek moet jou eerlik sê: Ek is gefokus op my besigheid. Ek is nie geïnteresseerd in die hofsake nie. Daar’s tog soveel ellende. Die mense wat hier inkom, is vreeslik droefgeestig.

“Wat hier met die Oscar-saak gebeur het, is totaal uitsonderlik.”

Sy het die restaurant in 2006 saam met haar seun, Stephanus, gekoop, maar dit sedertdien uitgekoop.

“Hier is so 50 sitplekke. Hierdie plek was stampvol en hier het rye mense gestaan. Sien, dis mos nou die internasionale media wat ook hier was. Dis mos omdat Oscar so gewild is oorsee.

“Toe ek die oggend van Oscar se borgtogaansoek hier aankom, was hier oral ligte en kameras. Blokke ver. Jong, hier was skares mense. Gelukkig parkeer ek hier agter by die sekuriteit. Hier was nie plek vir ’n muis nie.”

Hannatjie het nie met die mense praatjies gemaak nie. Soggens om 07:00 was sy by die werk en wanneer die eerste klante ingekom het, het sy self agter die kasregister gestaan. “Almal het ingespring. Ek het die till geslaan. Hier is nie tyd om met die mense te gesels nie.”

Haar omset het met ’n goeie 30 persent verhoog tydens Oscar se borgtogaansoek. “Ek moes ekstra brood, Coke, botteltjies water, koffie en melk aankoop. Hier was baie mense.”

Sy het die Olimpiese ster nog net een keer gesien. Vlugtig. “Dit was met die uitstel van die saak in Julie. Hy het hier verby die kafee gekom, maar sy baadjie was oor sy kop getrek.”

Sy steur haar nie juis aan die hofsake nie. Soms herken sy nie eens die mense wat hier inkom nie.

“Die grootste sake gaan mos maar hooggeregshof toe. Maar soms is hier bekendes. Soos daai Waterkloof-vier-outjies. Ek het hulle nie eens herken nie. Hulle het hier ingekom en iets gekoop. Ek het nog gevra wat hulle vandag hier doen.

“Die een outjie het geantwoord: ‘Ons is hier vir ’n ligte sakie,’ ” vertel sy met ’n laggie.

Maar hulle het haar nie juis beïndruk nie. “Hulle was vreeslik voor op die wa,” kom die antwoord vinnig. “Sommer arrogant.”

Soms kom die beskuldigdes sommer so geboei by Cafe Caught ingelei. “Ja kyk, hulle kom nou hier met die boeie om die hande en voete,” wys Hannatjie met haar duim en voorvinger om ’n pols gesluit. “Ek verkoop mos die leë plastieksakkies hier, so die mense koop dit en vat dit af met sigarette en goed na die aanhoudingselle.”

Hannatjie glo wat jy insit in die lewe, kry jy uit; daarom wil sy nie na al die droewige hofsake en stories luister nie. “Oe, die mense baklei baie oor onderhoud. Baie!

“Dis maar ’n klein opset dié, so ’n familie-affêre dié. Ek het my regulars wat elke dag kom. Oee, en skuif jy die pryse op, verloor hulle amper hulle broeke! Die ekonomie is af; almal kry swaar. Ek kan dit sien.”

Maandagoggende hou sy en haar personeel eers Bybelstudie en bid saam. “Ek het vir hulle gesê toe ek oorneem ’n mens kan nie saam werk as jy nie ook saam bid nie. En Vrydae, wanneer ons toemaak, doen ons lofprysing en ek dans saam met die klomp.

“Dis ’n klein opset hierdie, maar dis my pensioen en dis tog te lekker. Waar kry jy nog so ’n lekker werk? Ek het ’n bestuurder; ek kom net twee keer per week in en maak soggens 09:00 oop en 14:00 toe. Halfdrie is ek by die huis. Maar ek sal bly werk tot ek omkap!”

Dis nou met daardie uitsonderlike hofsake, soos Oscar s’n, dat Hannatjie nie omgee om self in te spring nie. “Hoe sê hulle? As dit pap reën, moet jy skep.”

  • Oscar Pistorius se moordverhoor is verskuif na die Pretoriase hooggeregshof, waar dit op 3 Maart aanstaande jaar sal begin.

Deur Danél Blaauw