Hoekom is melk belangrik?

In jou baba se eerste jaar is melk die belangrikste deel van hul dieet.

  • Dit bevat baie kalsium, wat belangrik is vir groeiende bene en tande. Dit is ook makliker vir die liggaam om kalsium uit melk te absorbeer as uit groente.
  • Melk is ’n goeie bron van proteïen.
  • Melk bevat ’n verskeidenheid vitamiene, veral vitamien A en B.

Die regte hoeveelheid formule

Dit kan verwarrend wees om te bepaal hoeveel formule jy jou baba elke dag moet gee. Dit hang af van hul ouderdom, gewig en of jy hulle ook borsvoed of soliede kos gee.

As jou baba nog nie eet nie, gaan hulle elke dag tussen 150 en 200 ml formulemelk per kilogram liggaamsgewig moet drink. As jou baba dus 3 kg weeg, gaan hulle tussen 450 en 600 ml melk in ’n 24 uur-tydperk nodig hê.

Jou baba se behoeftes hang nie net af van hul gewig nie, maar ook hul ouderdom.  Hier is ’n skatting van hoeveel jou baba moet drink:

  • Die eerste paar weke: Probeer 60-70 ml per voeding. Jou baba gaan nie meer as dit op een slag kan drink nie.
  • Van twee weke tot twee maande oud: Jou baba gaan tussen 75 en 105 ml by elke voeding wil hê. Hulle gaan tussen 450 en 735 ml in een dag drink.
  • Van twee maande tot ses maande: Jou baba gaan tussen 105 en 210 ml per voeding wil drink.
  • Ses maande oud: Jou baba gaan tussen 210 en 240 ml per voeding drink. Hy gaan altesaam sowat 900 ml per dag drink.
  • Een jaar en ouer: Jou baba kan nou oorslaan na koeimelk.

Hoe om formulemelk veilig te gebruik

  • Maak seker van die vervaldatum: Dit is dalk ’n versoeking om net ’n blik te gryp wanneer jy met ’n knieserige baba sukkel, maar neem ’n paar sekondes en maak seker van die vervaldatum – so verseker jy gehalte en veiligheid.
  • Hou die formulepoeier koel: Hitte degradeer die bestanddele en voedingstowwe in die formule; onoopgemaakte formule moet dus in ’n koel plek gehou word.
  • Moenie te lank wag nadat jy dit oopgemaak het nie: Gebruik die oopgemaakte blik formulemelk binne ’n maand.
  • Gebruik skoon, gesteriliseerde bottels: Verminder die risiko vir kontaminasie deur alle bottels en toerusting te steriliseer tot jou baba minstens drie maande oud is.
  • Bêre die klaargemengde formule agter in die koelkas, waar dit kouer is: Gooi die formule ná 24 uur in die koelkas weg. Moet dit nooit vries nie; gebruik ’n koelhouer met yspakke om bottels te vervoer.
  • Leer die simptome van voedselverwante siektes: Die algemeenste simptome is braking en diarree. Bel jou baba se pediater onmiddellik as jy hierdie simptome opmerk.

Tekens dat jou baba allergies is vir formulemelk

Volgens Jan Barger, ’n laktasiekonsultant, is die algemeenste kosallergie of -sensitiwiteit onder kinders vir koeimelk-proteïen, wat in die meeste soorte formulemelk teenwoordig is.

Van die opvallendste tekens sluit in ’n uitslag, huiduitsag, ekseem (droë, skilferige kolle op die vel, veral by die voorkop) en braking.

“Jy moet ook bewus wees van meer subtiele leidrade. Kyk kort voor of ná ’n voeding vir tekens soos voortdurende knieserigheid en duidelike ongemak,” sê Jan.

Wanneer jy formulemelk met vaste kos kan vervang

Dit is belangrik om jou baba tot eenjarige ouderdom formulemelk te gee, want hulle gaan teen ses maande, wanneer jy vaste kos begin inbring, nie ’n groot genoeg verskeidenheid kos eet nie.

Sodra jou baba net vaste kos eet, gaan hul daaglikse melkinname tot sowat 600 ml per dag daal.

Wat van koeimelk?

Koeimelk word ’n groot deel van jou baba se dieet wanneer hulle een word. Volroommelk is die beste keuse, want jou kleintjie het vet nodig om hul groei- en energie-behoeftes te bevredig. Jy moet jou kind minstens tot twee jaar melk gee.

Dieetkundiges stel voor ’n eenjarige drink nie meer nie as 350 ml per dag. As jou baba nie wil melk dink nie, kan jy aan die begin koeimelk met bors- of formulemelk probeer meng. Begin dan stadigaan minder inmeng tot dit net koeimelk is.

Alternatiewe vir formulemelk

Buiten borsvoeding, formule- en koeimelk is daar nie regitg ander goeie alternatiewe vir jou baba nie.

  • Buiten kraanwater: Nie net is dit gesond en vrylik beskikbaar nie; dit help beskerm ook teen tandbederf. Die meeste kinders geniet water as hulle die gewoonte van ’n jong ouderdom aanleer. Stel self die voorbeeld en hou altyd water byderhand.
  • Kinders moenie tee en koffie drink nie: Dit het min voedingstowwe en baie kafeïen. Kafeïen bemoeilik die absorpsie van yster en kan slaapprobleme veroorsaak.
  • Vrugtesap en versoete drankies moet net by spesiale geleenthede gedrink word: Moet dit ook nie in die huis aanhou nie. Te veel sap kan kleuters diarree gee, en kan tandbederf en gewigstoename veroorsaak.

- Janine Nel

Bronne: todaysparent.com, about.com, netmums.com, parenting.com