Hierdie burgers het ons geproe by Delvera se restaurant, Simonsberg Café en dit was een van die lekkerste burgers wat ek al geeet het.  Die sjef Arista sê dié maalvleisburgers is een van die groot trekpleisters by die restaurant, ek verstaan hoekom!

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 minute

Staantyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: sowat 20 minute

1 kg steakmaalvleis

15 ml (1 e) fyn koljander

5 ml (1 t) fyn kaneel

2 uie, fyn gekap of gerasper

3 knoffelhuisies, fyn gekap

5 ml (1 t) vars gemmer, gerasper

45 ml (3 e) pietersielie, fyn gekap

sout en vars gemaalde swartpeper

1 ektragroot eier, geklits

6 hamburgerrolletjies

60 ml (¼ k) sagte botter of margarine

blaarslaai

2-3 groot ryp tamaties, in skywe gesny

Meng die vleis, koljander, kaneel, uie, knoffel, gemmer, pietersielie, sout en peper en eier in ’n groot mengbak. (Gebruik jou hande om te verseker dat al die bestanddele goed gemeng  is, maar moenie oormeng nie.)

Deel die mengsel in 6 ewe groot dele en vorm bolle met jou hande. Druk effe plat.

Plaas die burgers op ’n skinkbord en laat rus so 30 minute in die yskas.

Verhit ’n riffelpan en braai die burgers tot bruin buite-om en nog effe pienk binne.

Halveer die rolletjies, smeer die onderste helfte met sagte botter en plaas ’n stukkie blaarslaai op elk.

Deel die tamatieskywe tussen die hamburgers en sit ’n burger  op die tamatie. Indien daar ekstra tamatieskywe is, sit dit op die burgers.

Sit dit voor saam met aartappelskyfies en ’n peperroomsous.