Nie eens voor die TV kon haar seun as ’n kleuter stilsit nie, en toe aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS) op vyf by hom gediagnoseer word, is Ritalin vir hom voorgeskryf.

Al is baie ouers gekant teen die gebruik van dié omstrede middel, het dit ’n groot verskil in Aston (nou 6) se lewe gemaak, vertel Tanya Oosthuizen (36), ’n ma van Fourways, Johannesburg. “Hy was rustiger en dit het hom help konsentreer.”

Maar die groot deurbraak was toe toetse wys hy is onder meer allergies vir gluten, melk, eiers en grondbone en hy dié kosse begin vermy het. “Hy het gesonder begin eet en was skielik ’n gelukkiger kind.”

Vir Tanya is dié ontdekking ’n verligting; Aston se vreemde eetgewoontes en sy probleme om op skool aan te pas het haar die afgelope paar jaar hoofbrekens besorg.

As baba was hy al anders. “Aston het niks daarvan gehou om styf in ’n kombers toegedraai te wees nie en het gras vermy,” onthou Tanya. “Later het ons ook agtergekom hy eet net sekere kosse. Toe hy ouer word, het hy begin gewig aansit, want hy wou net noedels, eiers en kaas eet en melk drink; geen vrugte of groente nie.”

Daarby het hy histeries geraak oor kleinighede:harde geluide, te veel mense om hom, helder ligte. Eindelik het dit geblyk hy het sensoriese  sensitiwiteit.

Nadat verskeie kenners geraadpleeg is, is AGHS by Aston gediagnoseer en medisyne voorgeskryf. Nie net het dit sy konsentrasie verbeter nie; dit het ook sy eetlus onderdruk. Sy vreemde eetgewoontes het blykbaar daaruit gespruit dat hy gedurig lus was vir sout, maar dit het sy AGHS vererger en sy gewig beïnvloed.

Nadat hy die medikasie begin gebruik het, het hy gou sy voete by ’n nuwe skool gevind. Alles het goed gegaan, tot hy ’n babahond gekry het. Skielik het Aston asemnood by die skool en op die sportveld ontwikkel.

Pediatriese toetse het gewys hy is allergies vir honde, katte, stuifmeel, gras en hoendervere, en ook vir gluten, grondbone, melk en eiers. Hy het ’n asmapompie gekry en dadelik opgehou om die kos te eet waarvoor hy allergies is. Die hondjie moes Tanya-hulle noodgedwonge weggee.

Dis nou al twee maande dat Aston sonder medikasie klaarkom en dit gaan goed met hom danksy hul kennis oor sy allergieë. “Hy is gelukkig, kalm en liefdevol,” sê Tanya.

Wat sê ’n kenner?

Dit is nie ongewoon dat kinders met AGHS ook allergies is vir sekere kossoorte nie, sê Natasha Stegen, ’n geregistreerde dieetkundige van Vryheid in KwaZulu-Natal en ’n lid van Adhasa, ’n Suider-Afrikaanse AGHSsteungroep.

“Allergieë veroorsaak inflammasie in die liggaam. Dit kan tot voedingstekorte en gedragsafwykings lei en irritasies vererger,” verduidelik sy.

“Voedsel waarvoor die liggaam sensitief is, veroorsaak skade aan die dunderm en dit belemmer die opname van voedingstowwe.Kinders se kieskeurige eetgewoontes kan nog voedingstekorte veroorsaak.

“Sowat 70 persent van hiperaktiewe kinders het allergieë en ’n tekort aan noodsaaklike vetsure. Die algemeenste allergieë is vir suiwel, koring of gluten en kunsmatige kleur-, geur- en preserveermiddels.”

Dis waarom die simptome van AGHS met die regte dieet verlig kan word.

Dieetwenke vir AGHS-lyers

  •  ’n Lae-GI-dieet help bloedsuikervlakke konstant hou.
  •  Vermy kunsmatige kleur-, geur- en preserveermiddels.
  •  Die kind moet bykomende noodsaaklike vetsure inkry soos omega-6, wat in plantaardige olies gevind word, en veral omega-3, waarvan olierige vis ’n goeie bron is.
  •  Die kind moet genoeg vrugte en groente eet, genoeg water drink en meer vesel inkry.
  •  Om te sorg dat hy genoeg aminosure inkry, is proteïenbronne belangrik, soos maer hoender en rooivleis, vis, laevetsuiwelprodukte, peulgroente, neute en sade (vermy laasgenoemde twee as jou kind daarvoor allergies is).
  •  Laat jou kind ’n goeie multivitamien- en mineraalaanvulling neem.
  • Probiotiese aanvullings bevorder spysvertering en absorpsie.
  •  Vermy wegneemetes en verwerkte kosse; dit bevat dikwels baie suiker, slegte vette (transvetsure) en kunsmatige kleur-, geur- en preserveermiddels.
  •  Laat die hele gesin ’n gesonde leefstyl volg; dit maak dit makliker vir die allergielyer.
  •  Lees kosetikette om seker te maak jou kind kry nie per ongeluk iets in waarvoor hy allergies is nie.

-          Dalena Theron