Terwyl die tonge nog onophoudelik klap oor pres. Jacob Zuma se nuwe kabinet, is alle oë weer om die verkeerde redes op die nuwe minister van finansies, Nhlanhla Nene

Nhlanhla, wat in 2008 die voorsitter van die parlement se finansieskomitee was, is die man wat tydens ’n regstreekse onderhoud op die SABC2-program View From The House agteroor geval het; die stoel waarop hy gesit het, het gebreek.

’n Greep van die “ongelukkie”, wat kort daarna op YouTube gelaai is, het wêreldwyd opslae gemaak en soos ’n veldbrand versprei; dit is reeds amper 300 000 keer gekyk.

“Ek wil nie ’n berg van ’n molshoop maak nie,” het Nhlanhla ná afloop van die ongeluk aan die Sowetan gesê. “Dit was ’n ongelukkie. Ek weet ek is swaar, maar ek sit baie op dié stoele. Dit is nie my gewig nie.”

Sedertdien kon hy nie al die media-aandag oor die ongeluk afskud nie.

Nhlanhla (55), ’n boorling van KwaZulu-Natal, het ’n B.Com.-graad aan die Universiteit van die Wes-Kaap voltooi en is sedert 1999 ’n parlementslid.

Hy was in 2010 ’n direkteur van die 2010-Fifa-Wêreldbekersokkertoernooi se plaaslike reëlingskomitee, en was vyf jaar lank die adjunkminister van finansies voor hy gisteraand tot minister van finansies bevorder is. Sy voorganger, Pravin Gordhan, is die nuwe minister van plaaslike regering.

Kyk die video van Nhlanhla se ongeluk hier:

BRONNE: IOL.CO.ZA, YOUTUBE.COM, WHOSWHO.CO.ZA, PA.ORG.ZA, CITIZEN.CO.ZA

– Christiaan Boonzaier