In wat deur Eskom as 'n groot oorwinning beskryf word, gaan 'n viertal eersdaags wens dat hulle liefs maar hul elektrisiteit op die regte manier bekom het.

Buiten tronkstraf is daar ook 'n sterk moontlikheid dat hulle boonop hul voertuie, eiendom en ander vaste bates mag verloor.

Die Batebeslagleggingseenheid, wat in Mei 1999 tot stand gebring is, fokus onder meer daarop om op kriminele se bates beslag te lê ten einde die stryd teen misdaad, en veral georganiseerde misdaad, te help bevorder.

Eskom het Saterdag 'n verklaring uitgereik waarin bevestig word dat 'n ma (56), haar seun (23) asook twee mans van De Deur aan die suide van Gauteng vier jaar gelede vir elektrisiteitsdiefstal gevang is.

Hulle word op altesaam 36 000 klagtes van elektrisiteitsdiefstal aangekla. Die viertal is verlede week in die Palm Ridge-streekshof op 16 451 klagtes skuldig bevind.

Die mans is betrap met 'n gesteelde eenheid van Eskom wat voorafbetaalde elektrisiteitsbewyse kan druk. Die viertal het ook tussen hulle nog 'n tweede gesteelde eenheid, verbruikerslyste, elektrisiteitsmeter-nommers en 969 onwettige elektrisiteitsbewyse gehad.

'n Vyfde persoon, vermoedelik die leier van die sindikaat, is ook destyds in hegtenis geneem, maar hy is tydens die verhoor vermoor.

Vonnisoplegging sal op 3 Februarie 2017 plaasvind.

Richard de Nobrega, senior raadgewer vir Eskom se ondersoekspan, het die saak as 'n groot oorwinning vir Eskom bestempel.

"Eskom verloor miljoene jaarliks vanweë elektrisiteitsdiefstal. Maar Eskom en die staat is nie die enigste slagoffers van hierdie soort misdaad nie," het hy gesê.

Richard het ook verwys na die hoeveelheid geld wat verloor word vanweë onwettige konneksies, lollery met elektrisiteitsmeters en die handel in onwettige voorafbetaalde bewyse.

"Wettige verbruikers betaal die prys in terme van verhoogde tariewe."

Tydens 'n onderhoud wat EWN met Bryan Katane van Operasie Khanyisa gevoer het, het hy aangedui dat elektrisiteitsdiefstal jaarliks sowat R20 biljoen beloop.

Wat kan jy doen om diefstal van elektrisiteit op welke manier ook al, te help bekamp?

Moenie terugsit en dink iemand anders sal dit dalk rapporteer nie. Of dink dat dit bloot net 'n mors van tyd sou wees nie. Inteendeel, Operasie Khanyisa is stadig maar seker besig om 'n positiewe verandering teweeg te bring.

Sedert dit in 2013 in die lewe geroep is, is daar al beduidende resultate.

“Al hoe meer mense kom na vore met nuttige inligting en die gevolg daarvan is dat daar nou ondersoeke landwyd aan die gang is," het Brian gesê.

Danksy Operasie Khanyisa is reeds meer as R800 miljoen aan inkomste ingewin in die vorm van boetes en heraansluitingskostes terwyl daar terselfdertyd verhoed is dat 'n verdere R1,4 miljoen se elektrisiteit verlore sou gaan.

Daar is reeds 50 moontlike elektrisiteitsdiewe aangekeer en 26 van hul sake word in verskeie howe verhoor.

Meld dit aan by Crime Line deur 'n SMS na 32211 te stuur ('n SMS kos R1), 0800 11 27 22 te bel of klik hier om dit by Operasie Khanyisa aan te meld.

Bronne: news24.com, npa.gov.za, ewn.com