Die Sharks, sal die meeste Suid-Afrikaanse rugby-entoesiaste jou vertel, is die groot teleurstelling en misterie van 2010 se Super14-seisoen. Hoe op aarde kon dié sterbelaaide span dan so vrot begin?

Hul eerste vyf wedstryde het die manne uit KwaZulu-Natal op ’n streep verloor en almal wou hulle afskryf. Selfs hul getrouste ondersteuners het begin wonder. Maar enige span met soveel blink, jong talent moes die een of ander tyd kop optel. En dit het die Sharks nou gedoen, danksy manne soos onder andere die slot Alistair Hargreaves.

Dié kêrel se blonde hare staan nog net so wild, maar hy is deesdae sonder die blonde baard wat hy gekweek het in die vyf weke toe die Sharks in Nieu-Seeland en Australië was. “Dis iets wat die ouens doen wanneer ons toer. Ons kyk wie die langste kan uithou sonder om te skeer,” verduidelik hy.

Te midde van die Sharks se treurmare in die eerste klomp wedstryde het ’n mens al byna vergeet dat die jong Alistair (24) aan die einde van verlede jaar op die toer na Europa Springbok geword en in twee wedstryde gespeel het.

Hy was ’n verrassende keuse, maar die mense wat weet, sê hy is bestem vir groot dinge. Die Sharks moet hom nou net mooi oppas sodat hy nie te gou, soos al met ander belowende jong spelers gebeur het, uitbrand of beseer word nie. ’n Slot bereik immers eers werklik sy toppunt hier teen 28, 30 jaar.

Dat hy talent het, sien jy klaar in sy rugby-CV: kaptein van die SA Skolespan in 2004, verteenwoordig Suid-Afrika in die o.19-wêreldbeker in 2004 en 2005, kaptein in 2005 toe Suid-Afrika die toernooi wen, lid van die Suid-Afrikaanse o.21-span in 2006...

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 29 April 2010