[caption id="attachment_128506" align="alignnone" width="600"]xx Christia Visser en Uga Carlini geniet hulself by die internasionale premiere van hul nuwe fliek, Alison, in Hollywood. Foto's: Verskaf[/caption]

Dié fliek, oor die dramatiese aanval op en verkragting van Alison Botha van Port Elizabeth meer as 20 jaar gelede, is ook deur ’n toonaangewende publikasie as hul keuse vir die fees aangewys.

Dances with Films vertoon net rolprente van onafhanklike vervaardigers met onbekende skrywers, regisseurs en akteurs.

“Dis massief!” laat weet Alison se skrywer-regisseur, Uga Carlini, vanuit Hollywood. Sy is daar saam met die ster van die rolprent, Christia Visser, om Alison te bemark.

Uga hou vol haar fliek is nie ’n dokumentêr in die tradisionele sin van die woord nie. Dit bevat heelwat fantasie-elemente, animasie en natuurlik ook argiefmateriaal. Maar groot dele daarvan word deur akteurs herskep.

“Die fliek bevat ’n bietjie van alles,” verduidelik Uga. “Ek is so trots daarop dat ons die eerste Suid-Afrikaanse film is wat na hierdie rolprentfees genooi word.”

Wat met die regte Alison Botha op daardie verskriklike nag in 1994 gebeur het toe Theuns Kruger en Frans du Toit haar ontvoer, verkrag en herhaaldelik met ’n mes gesteek en haar keel afgesny het, het die land aangegryp.

Veral oor die feit dat Alison nie net die wrede aanval oorleef het nie, maar ook besluit het om haar ervaring te gebruik om ’n motiveringspreker te word en ander te inspireer. Alison het ook ’n boek saam met die bekroonde joernalis Marianne Thamm oor die gebeure geskryf. I Have a Life is onlangs weer uitgereik.

Uga vertel sy moes Alison verskeie kere vra of sy die regte van haar storie vir die silwerdoek kan bekom. Eindelik het Alison ingestem en het Uga besluit op die unieke dokumentêre, fantasieagtige aanslag.

“Die vorige keer toe ek in Los Angeles was (’n paar jaar gelede), het ek almal van die film vertel, en nou is ek hier met daardie einste film,” vertel sy trots.

[caption id="attachment_128507" align="alignnone" width="600"]xx Dis die eerste keer dat sy oorsee kuier, vertel Christia. Foto's: Verskaf[/caption]

Dit is die eerste keer dat Christia oorsee gaan kuier. “Hollywood is ’n buzz,” laat hoor sy. “Om elke hoek en draai gaan iets aan.” Christia vertel sy en Uga het bekende plekke soos Sunset Boulevard en Rodeo Drive besoek. Laasgenoemde is waar die immergewilde Pretty Woman met Julia Roberts destyds geskiet is.

So wat dink sy van al die glans en glorie? Wel, sy is beslis nie baie beïndruk nie. “Dis eintlik snaaks hoe Hollywood geen indruk laat nie. ’n Mens verwag al hierdie goud en confetti, maar dis net absoluut normale (duur) winkels.”

Christia, wat onlangs vir twee Tempo’s benoem is, meen sy gaan nie gou die skuif van Suid-Afrika na Hollywood maak nie. “So lekker as wat dit is om so na aan die aksie te wees, het Suid-Afrika steeds my hart.”

Christia en Uga keer volgende week terug na Suid-Afrika nadat Alison Saterdagaand by die rolprentfees vertoon word. Intussen wandel hulle deur Los Angeles se strate en knoop geselsies aan met invloedryke mense.

“Ek het ’n baie belangrike verteenwoordiger van die Hollywood Foreign Press Association ontmoet,” verklap Uga. Dié vereniging gee elke jaar een van Hollywood se gesogste pryse, die Golden Globes, weg.

[caption id="attachment_128508" align="alignnone" width="600"]Christia was gelukkig genoeg om heelwat 'bekendes' op haar toer te sien, insluitend ons eie Charlize Theron! Foto's: Verskaf Christia was gelukkig genoeg om heelwat 'bekendes' op haar toer te sien, insluitend ons eie Charlize Theron! Foto's: Verskaf[/caption]

Maar Christia meen die groot sterre van Hollywood wys nie graag hul gesig nie. “Ons gaan (die nuwe animasieprent) Finding Dory se première bywoon. Hopelik gaan ons vir Ellen DeGeneres (die aanbieder van haar eie kletsprogram) vang en van Alison vertel!”

Uga beplan om nou aan ’n komedie te begin werk ná die ernstige Alison. Christia is reeds klaar geskiet aan ’n nuwe seisoen van Die Bolandmoorde op kykNET.

Alison begin op 12 Augustus in plaaslike rolprentteaters draai.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Kelder laatnag-TV jou pret in die bed?

Nike staan bankvas agter Maria Sharapova

Huilende slagoffer bly Hewitt se appèl teen tronkstraf vir seksdade misluk

EKSKLUSIEF: ’n Groot gunsteling verlaat die Laan

Errol se meisie het nie een varkie in die hok nie

Mamma Mia! Abba-aanhangers sal hiervan hou