Dis vir enige ouer ontstellend om hul kind te sien hyg en snak na hul asem; dis vreesaanjaend om jou kind ’n asma-aanval te sien kry, veral as jy nie weet wat om te doen nie.

Asma is ’n algemene toestand wat lei tot asemhalingsprobleme by duisende Suid-Afrikaners. En dis aan die toeneem; daar is nou amper drie keer soveel kinders met asma as 30 jaar gelede. Die beste raad is om alles oor die siekte te weet en dit te verstaan.  ?

Wat is die simptome? Vra beslis jou dokter wat die beste behandeling vir jou kind se asma is sodra hy simptome begin toon.

Die simptome kan lig, matig of ernstig wees, en kan die volgende insluit:

  • Hoes
  • Hyg
  • Toegetrekte bors
  • Kortasemheid of vinnige, snakkende asemhaling
  • Moegheid wat veroorsaak dat die kind minder of glad nie meer speel nie

As jou kind die bogenoemde simptome gereeld ervaar, het sy waarskynlik asma. Onthou, daar is meer as een soort asma. Dit kan ligte asma wees wat kom en gaan en gewoonlik deur verkoue veroorsaak word. Of dit kan ’n langduriger of ernstige asma wees. Dis moeiliker maar tog nog moontlik om die toestand te diagnoseer as jou kind jonger as drie jaar is.

Wat veroorsaak my kind se asma?

Die oorsake verskil van kind tot kind. By partye kinders kan dit verkoue wees; by ander oefening. Allergieë kan ook ’n groot faktor wees, asook goed soos opgewondenheid. Baie lag en huil kan ook ’n aanval teweegbring.

Watter behandelings is beskikbaar en hoe moet my kind dit gebruik?

As jou kind ligte asma het, het hy gewoonlik net behandeling nodig wanneer hy simptome ervaar. Kinders met ernstiger asma het dalk gereelde behandeling nodig om die asma te voorkom en gebruik dan ook behandeling om die simptome te verlig as hulle voorkom. Waar moontlik, moet behandeling met ’n pompie ingeneem word. Daar is pille teen asma, maar die beste behandeling word gewoonlik met ’n pompie toegedien. Daar is verskeie pompies vir verskillende ouderdomme; daarom moet jy jou dokter vra wat die beste is vir jou kind se soort asma.

Is die behandelings veilig?

Die behandelings wat gebruik word om die gehyg te verlig is baie veilig. Maar as dit nie lyk of die pompie die simptome verlig nie, moet jy dit nie aanhou gebruik met die veronderstelling dat jou kind net meer daarvan nodig het nie. As jou kind se asma nie verbeter wanneer hulle ’n normale dosis van die pompie inasem nie, beteken dit die aanval is ernstig en jou kind moet ’n dokter spreek.

My kind het asma, moet ek liewer nie troeteldiere aanhou nie?

Die kort antwoord is: Ja, dis beter om nie troeteldiere met pels of vere te hê nie. Die meeste kinders wat asma het, is ook geneig om allergieë te ontwikkel. As hulle ’n kat of hond het, kan hulle daarvoor allergies raak. Dit sal swaar wees as die kind geheg aan die dier geraak het.