Die gewese 30 Rock-ster het getuig teen Genevieve, wat verhoor word vir bekruipery en teistering. Die Kanadese aktrise het in trane uitgebars toe hy haar daarvan beskuldig dat sy sy lewe hel maak.

Die beskuldigde (40) het Alec (55) herhaaldelik getart tydens sy getuienis, volgens TMZ.com, en hom uitgedaag toe hy haar bewerings ontken hulle het seks gehad nadat hulle op ’n ete-afspraak was in 2010 en mekaar ook in 2002 ontmoet het.

Sy het “regtig?” geskree toe hy volhou hulle het nooit ’n seksuele verhouding gehad nie en hom daarvan beskuldig het hy ly aan “joksiekte”.

Aanklaers het verlede week onthul Genevieve, wat in April buite Alec se huis in New York in hegtenis geneem is en ’n beskermingsbevel oortree het, het meer as honderd e-posse aan hom gestuur om hom te oorreed om haar swanger te maak, en selfs vir hom gesê wanneer sy ovuleer.

Die aktrise se prokureur, Todd Spodek, het aangevoer haar optrede spruit uit haar begeerte om afsluiting te kry ná haar kortstondige “seksuele verhouding” met Alec in 2010 “verbrokkel” het.  Hy het gesê: “Geen kontak en geen ordentlikheid nie. Totale minagting vir mej. Sabourin en haar emosies. Mej. Sabourin wou net afsluiting hê van ’n baie moeilike verhouding.”

Alec se vrou, Hilaria Thomas (29), wat in Augustus die lewe geskenk het aan hul eersteling, Carmen, sal na verwagting later vandeesweek getuig.