Ricus Nel bespeel nie net verskeie instrumente – van trekklavier tot kitaar – nie; hy kan sing en hy kan liedjies skryf dat dit klap. Dit is so lekker om na die donkerkop-softy te luister en die klomp liedjies op dié tweede album is nou wat ’n mens netjiese musiek noem. Die CD skop af met Spyt Kom Te Laat en tel dan ál meer stoom op. Hy maak daardie immergroen countrytreffer You’re My Best Friend syne, en dan is daar die lieflike Geen Beter Tyd As Nou, ’n duet saam met sy ewe talentvolle vrou, die sangeres Liza Brönner. Daar is diepte, warmte, liefde, ’n bietjie sokkie en country op hierdie album – lekkerluistermusiek van begin tot einde. Hol sommer nou CD-winkel toe, want kyk, mnr. Nel mag maar. Ons dink 4/5

– HAIDEE MULLER