Prins Albert en Prinses Charlene van Monaco het vier weke ná die tweeling se geboorte vir die wêreld gewys hoe die troonopvolger en sy suster lyk.

Die skare het hande geklap en gejuig toe die koninklike egpaar vanoggend elk met 'n baba in die arms op die balkon verskyn het. Charlene kon nie ophou om vir klein Jacques te soen nie, terwyl pa Albert gestraal het van trots terwyl hy sy dogtertjie vashou.

Meer as 3 000 mense het saamgedrom onder hul balkon om vir die eerste keer die tweeling te aanskou en 'n openbare vakansiedag is ter ere van die geleentheid aangekondig. Twee weke gelede het voormalige Suid-Afrikaanse swemmer Charlene en Prins Albert meer formele foto's van Jacques en Gabriella op die koninklikes se Facebookblad vrygestel.

Prins Jacques Honoré Rainier en Prinses Gabriella Thérèse Marie is op 10 Desember verlede jaar met 'n keisersnee in die in die Princess Grace Hospitaal gebore. Vandag was die eerste keer sedert die tweeling se geboorte wat Charlene in die openbaar verskyn het.

Bykomende bronne: hello.com, dailymail.co.uk