Albert (55) het die uitstalling oor Grace se lewe in Pennsilvanië, Amerika, saam met sy vrou, Charlene Wittstock (35), bygewoon en gesê hy is tevrede met hoe dit haar uitbeeld.

Grace was in die 50’s ’n Amerikaanse rolprentster voor sy in 1956 met prins Rainer III van Monaco getrou het. Hulle was saam tot met haar tragiese dood in ’n motorongeluk in 1982.

“Ek is diep geraak deur jul belangstelling in my ma en haar ryk nalatenskap,” sê hy in ’n video wat by die uitstalling gewys is. “Die wêreld ken my ma eerstens as ’n Hollywood-aktrise en dan as die prinses van Monaco. Sy was voorwaar ’n pragtige en talentvolle vrou en mode-ikoon, maar dit was net ’n klein deel van haar lewe.”

Albert het ook gefokus op van die liefdadigheidswerk waarby Grace betrokke was nadat sy haar in Europa gevestig het. “Sy het ’n suksesvolle akteursloopbaan in Hollywood agtergelaat om haar hart te volg. In haar leeftyd was sy vir die Verenigde Nasies ’n kampvegter vir kinders en sy het ’n internasionale woordvoerder vir kuns en kultuur geword. Deur die Prinses Grace-stigting en as voorsitter van die Monaco Rooi Kruis het sy ook ’n blywende nalatenskap gelaat.”

Albert het sy huldeblyk afgesluit met: “Diegene van ons wat gelukkig genoeg was om my ma te ken – haar familie en vriende – het haar geken as ’n opregte en liefdevolle vrou. ’n Vrou wat altyd haar familie eerste gestel het. Ek hoop dat julle met die uitstalling ’n kykie sal kry in die ware Grace Kelly, die vrou agter die ikoon, my ma.”