Donderdag het die dood van ’n geliefde akteur skokgolwe deur die wêreld gestuur. Alan Rickman (69) wat ’n geweldige groot aanhang onder veral Harry Potter-geesdriftiges geniet het, het aan kanker beswyk.

Die aankondiging deur sy familie het gelui: "Die akteur en regisseur Alan Rickman het in die ouderdom van 69 aan kanker gesterf. Hy was omring deur familie en vriende."

Lees ook: Onthou Chris Barnard saam met Dana Snyman

Na ’n verhouding van 50 jaar het Alan en sy lewensmaat Rima Horton in 2015 die knoop deurgehaak. Tydens die onderhoud het hy gesê: "Ons is getroud. Onlangs. Dit was wonderlik want daar was niemand nie. Na die troue in New York het ons oor die Brooklyn-brug geloop en middagete geniet."

JK Rowling, skrywer van die Harry Potter-reeks het op Twitter hulde aan die akteur gebring. Sy het haar skok en hartseer oor sy dood uitgespreek en hom as ’n manjifieke akteur en ’n wonderlike man bestempel.

Lees ook: Musieklegende David Bowie sterf

Daniel Radcliffe wat die rol van Harry Potter in die flieks vertolk het, het onder meer op Facebook Alan as volg beskryf: "Alan Rickman is ongetwyfeld een van die beste akteurs wat ek ooit mee kon werk. Hy is ook een van die lojaalste en ondersteunendste mense wat ek in die filmbedryf ontmoet het."

Daniel sê Alan het hom tydens verfilming van die flieks as ’n gelyke eerder as ’n kind gehanteer. Die ouer garde sal Alan onthou as die meesterlike skurk Hans Gruber wat in Die Hard probeer om ’n denkbeeldige Plaza-gebou in Los Angeles op te blaas.