’n Mens hoor dit dadelik toe jy haar bel – die hoop in haar stem toe sy die foon met die onbekende nommer antwoord.

[caption id="attachment_124767" align="alignnone" width="600"]Monica Barnard is al byna vier weke lank vermis. Foto: Facebook/Verskaf/Platinum Bushvelder Monica Barnard is al byna vier weke lank vermis. Foto: Facebook/Verskaf/Platinum Bushvelder[/caption]

Maar ná byna vier weke het Louise Loubser (53) van Pretoria nog nie ’n woord van haar vermiste dogter, Monique Barnard (19), gehoor nie.

Alhoewel haar naam Monique is, verkies sy om Monica genoem te word, aldus haar ma.

Die donkerkop het na bewering in die oggendure van Donderdag 7 April die woonstel wat sy in Lephalale (Ellisras) in Limpopo met haar kêrel, Morné Janse van Rensburg (21), gedeel het, met net ’n klein tassie verlaat.

Hoewel dit nie die eerste keer is dat haar kind al die pad gevat of weggeloop het nie, is dit die eerste keer dat sy absoluut geen kontak met haar ma gemaak het nie. Louise vrees nou meer as ooit vir haar kind se veiligheid.

“Ek weet nie meer watter kant toe nie; ek weet net nie meer nie. Sy was nog nooit so lank nie in verbinding met my nie,” vertel Louise in ’n bewerige stem oor die telefoon uit Pretoria waar sy bly.

Sy vertel Monica het nooit skool klaargemaak nie en het baie emosionele probleme. Sy het destyds as gr. 9-leerling “verskriklik rebels” begin raak en by haar pa in Musina gaan woon, maar in haar gr. 11-jaar, 2014, het sy van haar pa weggeloop na Johannesburg en by ’n man gaan woon.

Dié verhouding was gekenmerk deur fisieke geweld en haar ma-hulle het haar eindelik daardie jaar so ver gekry om uit die verhouding te ontsnap en na ’n kliniek te gaan.

Sy was gelukkig nooit werklik by dwelms betrokke nie, vertel Louise. Monica het eindelik teruggetrek na Lephalale, waarna sy by Morné, ’n ambagsman, betrokke geraak het. Hulle het in ’n stadium vir ’n wyle in Vanderbijlpark gaan bly, maar het ten tyde van haar verdwyning weer in Lephalale gewoon.

Louise het die aand voor haar verdwyning tot 22:00 die laaste keer met haar dogter per WhatsApp gesels. Hulle het nog gepraat oor weer professionele hulp vir haar depressie kry. Sy en Morné het glo ook baklei.

“Ek het haar darem sover gekry om te kalmeer.” Sy vertel hulle het “oor alles baklei – kindergoed, jaloesie.”

“Sy was baie depressief. Sy het nog vir my gesê: ‘Dis reg, Mamma, ek sal gaan (vir sielkundige behandeling).’”

Morné het aan haar vertel dat Monica omstreeks 01:00 uit hul woonstel met net ’n paar kledingstukke in ’n tassie vort is. Haar nuwe hondjie, wat hulle sowat ’n maand tevore gekry het, het by hom agtergebly. Monica het ’n swart hempie en swart sweetpakbroek aangehad.

“Hy het vertel hy het agter haar aangery, maar sy het geweier om by hom in die kar te klim. Ek kan dit glo; ek weet hoe onbeheers sy kan raak as sy in so ’n emosionele toestand is.”

Morné het haar toe glo gelos, want sy het al voorheen weggeloop, maar altyd weer kort daarna teruggekeer.

Maar nie dié keer nie.

Louise kon in die twee dae daarna glad nie haar dogter telefonies weer in die hande kry nie. Haar foon was afgeskakel. Sy het toe Morné noodgedwonge gebel, wat haar toe eers ingelig het van Monica se verdwyning. Haar ma het haar daardie Sondag amptelik as vermis aangemeld.

Intussen het ook die Pink Ladies, ’n niewinsgewende organisasie wat help om vermiste persone op te spoor, betrokke geraak.

Enigiemand met inligting kan die Pink Ladies by 072-214-7439 of die Lephalale-speurtak by 014-762-1036 bel.

  • Huisgenoot het met Morné in verbinding probeer tree, maar hy kon nie op sy selfoon vir kommentaar bereik word nie.

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Gespanne en hartseer’ honde weier om sterwende baba se hospitaalbed te verlaat

Man ry 1400 km ver om 15 bakke KFC vir sy vrou op hul vyftiende huweliksherdening te koop!

Dit gons vandag landwyd in die howe met drie hoëprofielsake

Die porsiebeheerdieet – die dieet wat werk!

Kyk: Die kietsie skrik g’n niks vir water en reis boonop om die wêreld!

‘Hulle help my deur my donkerste tye’: Jong kwadrupleeg spandeer haar lewe om soos Barbie en Britney Spears te lyk

Kyk: Dis hoekom jy Wagter liefs nie ’n drukkie moet gee nie!