Ons lees altyd oor hul glanslewe en wonder waarmee hulle hulself besig hou die dag as hulle nie op die rooitapyt pronk of uit ’n tas lewe nie. Vir die meeste van ons is naweke ’n tyd om net af te skakel ná 'n besige week en vir hierdie sterre is dit nie veel anders nie! Kyk hoe balanseer dié glansmense hul werklewe en vryetyd.

Adriana Lima

Jy mag dalk net dié Brasiliaanse supermodel by jou volgende voetbal-wedstryd sien! Adriana is ’n kranige voetbal-ondersteuner en sien elke jaar uit na die gewilde Super Bowl-wedstryd. Sy het verlede week ’n foto van haarself en haar agent op haar Instagram-profiel gedeel waar hulle die vorige jaar se wedstryd bygewoon het. En sy het ook ’n selfie gedeel van haar by vanjaar se Super Bowl en vertel hoe “opgewonde” sy is om daar te wees.

A photo posted by Adriana Lima (@adrianalima) on

 

Richard Branson

As hy nie die wêreld plat reis nie, span dié skatryk Britse sakemagnaat uit op sy privaateiland, Necker, in die Karibiese See. Vrydae-aande sal jy hom op 'n dansbaan kry waar hy in 'n klub op die band Frontline sy lyf skud en daarna sal hy op sy dak gaan lê en sterre kyk. Klink mos hemels! Met so ’n laat aand sal jy dink hy slaap laat? Watwou! Die stigter van die bekende Virgin Group is gewoonlik douvoordag uit die vere om in die see te gaan swem en later die dag slaan hy ’n paar balle op die tennisbaan.

Lees ook: Mariah Carey beplan nie een nie, maar drie uitspattige troues  

Doutzen Kroes

Doutzen is die definisie van 'n superma! Die model en ma van twee is oorspronklik van Nederland afkomstig en het haar modelloopbaan op die jong ouderdom van 18 begin. Doutzen is in 2010 getroud en sedert die geboorte van haar eersteling ’n jaar later balanseer sy modelwerk in die week en spandeer oor naweke tyd met haar gesin. As sy nie besig is met werksverpligtinge nie, skep sy bewustheid rondom HIV.

A photo posted by Doutzen Kroes (@doutzen) on

Jennifer Lawrence

Vra jy haar waar jy haar oor naweke sal kry, antwoord sy by die huis. Die Hollywood-aktrise geniet dit om tuis met vriende en ’n glasie wyn uit te hang. Dis natuurlik ook voordelig dat so baie van haar vriende naby haar woon, vertel sy. Die akteur Ashton Kutcher en sy aktrise-vrou, Mila Kunis, woon twee huise in die straat af. Jennifer is goeie pelle met die akteurspaar en daag soms onverwags by hul voordeur op.

Lees ook: Sewe van die vreemdste huweliksaansoeke in Hollywood  

Simon Cowell

Die suurknol-beoordelaar van die gewilde Britse sangkompetisie The X-Factor het toe al die tyd ’n sagte kant aan hom. Vandat hy in 2014 ’n seun ryker geword het, wy hy deesdae die meeste van sy tyd aan hulle gesin toe. Simon het onlangs in Barbados gaan uitspan met sy vriendin, Lauren Silverman, en hul eenjarige seun, Eric. Hulle stap graag op die strand rond en die honde bly ook nie agter nie! Simon spog gereeld oor sy honde, Squiddly, Diddly en Freddie, op die bekende televisie-program.

Bobbi Brown

Die bekende Amerikaanse grimeerkunstenaar Bobbi Brown is nie net ’n goeie bestuurder van haar skoonheidsbesigheid nie, maar ook ’n goeie bestuurder van haar huishouding! Bobbi sê naweke is nie vir laat slaap nie. Sy staan steeds 06:30 op vir ’n groen sappie en koffie. Oor naweke antwoord sy e-posse en as redaktrise van die aanlyn-skoonheidstydskrif, Yahoo Beauty, moet sy gereeld inteken om seker te maak alles verloop nog goed. Sondae is familie-dae in die Brown-huishouding. Bobbi geniet eers ontbyt met die gesin en vaar dan die winkels in om inkopies vir die week te doen.

Bronne: Instagram, dailymail.co.uk, vogue.com, businessinsider.com

Ander stories op Huisgenoot.com

Karlien van Jaarsveld kuier vanaand in 7de Laan

Kyk: Gys de Villiers ontsenu in nuwe rillerprent

Kyk: Suzelle se Valentynsplanne loop liederlik skeef!