Brenton het in 2015 die Amerikaanse Billboard-treffersparade oorgeneem toe sy liedjie Soul on Fire die meeste onder Christelike liedjies gespeel is.

Dit was ook die dryfkrag agter die verkope van die rockgroep, Third Day se jongste album, Lead Us Back, waarop dié einste liedjie ook opgeneem is.

Lees ook: AL DIE GRAMMY-WENNERS VIR 2016

Soul on Fire het nie net naam gemaak onder die Christelike afdeling nie, en het 20ste gelys op die algehele Amerikaanse Billboard top 200-treffersparade.

Brenton is benoem in die kategorie vir beste optrede/liedjie in kontemporêre Christen-musiek vir die liedjie Soul on Fire. Die jaarlikse Grammy-prysaand het op Maandag 15 Februarie in Los Angeles plaasgevind.

Hy is vantevore benoem vir twee US Dove-pryse vir sy liedjies Everlasting God en Soul on Fire.

Brenton is ’n gebore Kapenaar en het destyds vier jaar aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Hy het ’n Rhodes-beurs losgeslaan om aan die Universiteit van Oxford in Engeland ’n kursus in filosofie, politiek en ekonomie te volg. Daarna het hy ’n diploma in teologie verwerf.

Lees ook: Leonardo DiCaprio en Maggie Smith se oulike soenkamera-oomblik

In Engeland het hy by die Oxford Vineyard Church begin prysliedere skryf.

Van sy liedjies is ook al deur vername Amerikaanse Christelike sangers opgeneem soos Chris Tomlin, Amy Grant en Jeremy Camp. Die voormalige Idols SA-wenner Heinz Winckler het ook een van Brenton se liedjies, Undo, ingesluit op sy tweede album, Blow Me Away.

Lees ook: Martin Bester bekoor in nuwe musiekvideo

“Tydens my grootwordjare in Kaapstad het ek daarvan gedroom om liedjies te skryf wat mense eendag sal sing. Ek is skoon verstom om te sien hoe my droom waar word, veral met Soul on Fire wat ’n belangrike tyd in my persoonlike lewe weerspieël,” sê hy.

Hy sê Afrika sal altyd deel wees van hom, maar vandag noem hy Kalifornië sy huis. Hy woon daar saam met sy vrou, Jude, en twee dogters, Bella en Lulu.

Bronne: Netwerk24, brentonbrown.com, cno.marklives.com

Ander stories op Huisgenoot.com:

Al die Grammy-wenners vir 2016

Kyk: Leonardo DiCaprio en Maggie Smith se oulike soenkamera-oomblik

Kantoorchaos kom tot ’n einde danksy ‘slim’ stoele

Polisie red 18 kinders uit SA kerk