Nie net is hulle dikwels op die rooi tapyt of jou televisieskerm te sien nie, hulle was almal in die Hoërskool Jeugland in Kempton Park. Maar die lys van bekendes hou nie daar op nie. Germandt Geldenhuys, wat deesdae as Louis Koster in Binnelanders te sien is, het ook aan die Hoërskool Jeugland gematrikuleer. So ook Suzzi Swanepoel, wat die rol van Isabel in kykNET se dramareeks Sterlopers vertolk het. Die aktrise en sangeres Karen Wessels, wat onlangs in Fluiters te sien was, was ook daar op skool.

Fake scratch... makeup. On #fluiters set. #fun #nobotoxyet #ouch

A photo posted by Karen Wessels (@karenwvs1) on

Leandie du Randt

@sparladiespta challenge is here!!!! ???? #FrikkieFitness @bouwerbosch #IamGrateful

A photo posted by Leandie du Randt Bosch ? (@leandiedurandt) on

Leandie, wat tans besig is met haar landwye toer om haar boek, Gemaklik in Jou Eie Lyf, te bemark, het in 2006 gematrikuleer. Sy het bekendheid verwerf toe sy in Getroud met Rugby te sien was en het die laaste paar jaar ook op die silwerdoek naam gemaak met fliekrolle in onder meer Die Windpomp, Mooirivier en Strikdas. Leandie was ook ’n gunsteling toe sy die rol van Ivanka Gouws in die kykNET-sepie Binnelanders vertolk het. Sy is verlede jaar met die sanger en televisie-aanbieder Bouwer Bosch getroud.

Wat is jou gunstelingherinnering van jou hoërskoolloopbaan?

Die Extravaganza(-skoolkonsert en revue) se oefening en optredes.

Watter soort leerder was jy op skool? Ek was hoofmeisie. Ja, um, maar die soort wat nie noodwendig uit die hoof se kantoor gebly het nie. Ek was op ’n manier baie voorbeeldig, want ek is ’n trotse mens, maar ek wou hoofmeisie word om die skool ’n lekkerder en cooler plek vir die kinders te help maak. Ek het eers later besef dit gaan nie gebeur nie. Was bekendheid en die vermaaklikheidbedryf jou droom toe jy op skool was? Nog altyd, sedert ek een jaar oud was.

Jacques Bessenger

Ballade shoot almost a year ago.

A photo posted by @jacquesbessenger on

Jacques het in 1998 aan die Hoërskool Jeugland gematrikuleer en was onlangs in die flieks Sink, Ballade vir ’n Enkeling en Modder en Bloed te sien. “Ek skiet aan Keeping Score, ’n telenovela vir die SAUK,” sê Jacques. Hy is ook besig met voorbereiding vir ’n toneelstuk by Aardklop en sê daar is ’n nuwe fliek op die horison. Volgens Jacques wou hy op skool al akteur word en almal het sy droom ondersteun.

Wat was jou gunstelingvak op skool? Waarom?

Ek het Zoeloe gehad tot in matriek. Ons was die eerste groep wat dit as ’n keusevak kon kies. Ek hou baie van tale. Dit is regtig ’n baie mooi, fassinerende, komplekse taal om aan te leer. Dit het my aandag behou en ek hou daarvan om klik-klanke met my tong te maak.

Watter vak het jy glad nie geniet nie? Houtwerk. Wat is jou gunstelingherinnering van jou hoërskoolloopbaan? Pouses was great! Ek het altyd by die snoepie mense geteister vir “las” om lekkers te koop. Ek was ’n dirigent in matriek. Ons het daai jaar weer ’n band gebruik. (Dit is vir ’n paar jaar nie gebruik nie.) Dit het die gees van die skool so wonderlik geraak. Die dag op interhoër was amazing! Die hele skool wat voor jou staan en skree en hop en spring was onvergeetlik. Dan was ATKV-Tienertoneel ook ’n oorweldigende ervaring.

Schalk Bezuidenhout

This is my in love with stand-up face. ? Louise Pieterse

A photo posted by Schalk Bezuidenhout (@schalkiebez) on

Schalk is tans te sien in die kykNET-komediereeks Hotel, is aanbieder van Die Kliek op die leefstylkanaal Via, en was al in ’n hele paar televisieadvertensies. Hy doen dikwels optredes as komediant en het selfs al vir Trevor Noah geopen voor een van sy optredes in Suid-Afrika. Schalk het in 2010 aan die Hoërskool Jeugland gematrikuleer. “Ek was net een jaar in elke graad,” sê hy.

Wat was jou gunstelingvak op skool?

LO (Lewensoriëntering), want die LO-onderwysers was net nooit daar nie. LO is die vak wat hulle gewoonlik aan ’n onderwyser toewys sodat die onnie wettig by die skool kan wees. Partykeer is daar ’n krieketmeneer en al wat hy wil doen, is krieket afrig. Of al wat hy wil doen, is hokkie afrig. Maar hulle kan hom nie wettig aanstel sonder dat hy ’n vak gee nie. Dan sê hulle, gee maar net LO. Sê vir die kinders om kondome te gebruik en vertel hulle van Aids. Dan het het jy jou werk gedoen. Hulle het nooit eintlik ’n veer gevoel vir die vak self nie.

Wat is jou gunstelingherinnering? My gunstelingherinnering was 94.7 (’n optrede wat Schalk tydens byeenkomste op die skool se aantreeblad gedoen het, en waartydens hy grappige kommentaar gelewer het oor gebeure by die skool), want sonder dat ek dit geweet het, is dit waar my stand-up-loopbaan begin het. Jy weet, om kinders en onderwysers so voor die skool uit te haal. Ek het dit geniet. Watter soort leerder was jy? Ek was ’n goeie leerder op skool. Jy weet, soet. En ek het hard geleer. My grootste vrees was dat ek nie by ’n universiteit sou inkom nie, dat al my vriende universiteit toe sou gaan en dan is ek die ou wat in Kempton Park sit en elke aand in die Dros suip. Ek het dus baie hard geleer.

Elsa Esterhuizen

"In die nuus vanoggend..." #GROOTontbyt #kykNET

A photo posted by elsa esterhuizen (@elsaesterhuizen) on

Elsa was in 2009 in matriek en sê sy is dikwels uit die klas gejaag omdat sy nie kon ophou lag nie. Sy is ’n aanbieder by Groot FM en is ook weekdae te sien op Die Groot Ontbyt op kykNET.

Watter soort leerder was jy op skool?

Ek weet nie of ek een van die cool kinders was nie. Ek was beslis ’n nerd – my tuiswerk was my gunstelinggeselskap terwyl ek in die aande na Radio Sonder Grense geluister het. Ek was beslis nie ’n sportster nie, maar ek het in sommige jare aan kultuuraktiwiteite deelgeneem.

Sê nou jy kon teruggaan in tyd en vir jouself in gr. 8 gaan raad gee, wat sou jy sê? Moenie so ernstig wees nie! Lewe ’n bietjie en vang meer kattekwaad aan! Was bekendheid en die vermaaklikheidbedryf jou droom toe jy op skool was? Ag, ek wou eintlik net my hart oor die radio deel. Dit was nog altyd my droom. Dit het nooit vir my gegaan oor die bekendheid nie. Ek dink die Lewensoriëntering-vraelyste en -opdragte het darem ook gehelp, aangesien dit duidelik getoon het dat ek op die regte pad is.

Marco Spaumer

Ons reël troue op Suidooster - Maandae tot Donderdae, 18:00 en 20:00 op @kyknettv ?????

A photo posted by Marco Spaumer (@marcospaumer) on

Marco, wat in 2009 gematrikuleer het, is weekaande te sien as die argitek Tim du Plooy in die kykNET-sepie Suidooster.

Watter soort leerder was jy op skool?

Ek het deur twee baie duidelike fases gegaan, van gr. 8-10 was ek die rebel en die onderpresteerder, maar in gr. 11 en matriek was ek op die leerlingraad en het ek amper al die kultuuraktiwiteite gedoen én akademies die top-10 gehaal.

Wat is jou gunstelingherinnering van jou hoërskoolloopbaan? Repetisies en vertonings van ons jaarlikse Extravaganza, asook al die tyd in die mannekoor. En dan natuurlik my ongelooflike groepie vriende. Keer aanhangers jou in die straat voor? Watter vreemde dinge het hulle al vir jou gesê of gevra? Nou meer gereeld, as gevolg van die sepie se sukses. Ek het nog nie iets uitermate vreemds ervaar nie, maar is onlangs terwyl ek met vakansie was, deur 'n Afrikaanse Italiaanse familie ingenooi om saam met hulle 'n bier te drink en stories te vertel en te kuier.

Germandt Geldenhuys

“Ons het eintlik nader aan die Hoërskool Kempton Park gewoon, maar die keuse (om Jeugland toe te gaan) is gemaak op grond daarvan dat mense vir ons gesê het Jeugland was ’n goeie kultuurskool,” sê Germandt, wat in 2007 in matriek was. Hy speel nou Louis Koster in die sepie Binnelanders. Germandt het al baie teaterwerk agter die rug en was ook vroeër vanjaar by Emperors Palace in Sneeuwitjie te sien.

Watter soort leerder was jy op skool?

Ek was beslis ’n kultuurkind gewees – die kunste vloei vrylik in my bloed. Ek was lid van die koor, het redenaars gedoen en elke jaar aan die revue deelgeneem. Kunswedstryde was my kos. En toneelspeel, natuurlik. Dit is ook waar die toneelgogga my behoorlik gebyt het.

Wat was jou gunstelingvak op skool? Waarom? Biologie was my gunstelingvak omdat ek ’n fassinerende onderwyser gehad het wat dié vakgebied op ’n passievolle manier aan die leerders oorgedra het. Ek het die menslike liggaam en die werking daarvan nog altyd mindblowing gevind. Keer aanhangers jou in die straat voor? Watter vreemde dinge het hulle al vir jou gesê of gevra? Soms. Dit is iets om aan gewoond te raak. Gewoonlik kom ek dit nie agter nie, maar ja – dit is seker maar iets wat gebeur wanneer ’n mens in een van die topsepies in Suid-Afrika speel. Ek het nou een aand na Nataniël se nuwe vertoning by Emperor’s Palace gaan kyk. Die tannie wat agter my staan, het my herken en my gevra of ek Louis Koster is. Ek het dit beaam. Omdat haar man op krukke was, het ek beleef gevra of hulle nie maar voor my in die ry wil staan nie – geen man moet so sukkel met krukke nie. Toe die omie verbystap, gly sy kruk effe en droogweg sê hy: “Ja, ek moes geweet het waar daar ’n Koster is, is daar net moeilikheid.”

Suzzi Swanepoel

#Sterlopers2 #6Jan #KanniWag #IsabelEnJacques

A photo posted by Suzzi Swanepoel (@suzziswanepoel) on

Suzzi was in gr. 8 toe Jacques Bessenger in 1998 in matriek was en hulle was daardie jaar saam in die skoolrevue. “Hy sê altyd hy sal nooit vergeet hoe ek Evita se Don’t Cry For Me Argentina gesing het nie,” sê Suzzi. Behalwe vir haar rol in Sterlopers, het sy ook aan haar debuutalbum gewerk, en dié word binnekort uitgereik.

Watter soort leerder was jy op skool?

Ek was gewild, maar ek was nie ’n prefek nie. Ek het elke pouse by ander mense gesit, wat in daai tyd eintlik ’n groot nee was, maar ek kon nie verstaan hoekom ek eksklusiewe vriende moes hê nie. Ek was ’n dirigent, maar het soms die 100 m-hekkies gehardloop as niemand anders wou nie, want, ag wat, as ek val, kan almal lag. Maar ek het nooit geval nie. Ek was by tye die nerd of die mal kind, want ek het nie mooi ingepas nie, maar dit het my nie so baie gepla nie. In die koor en revue kon ek myself uitleef.

Sê nou jy kon teruggaan in tyd en vir jouself in gr. 8 gaan raad gee, wat sou jy sê?

Sjoe, ’n paar goed. Om meer instumente te leer bespeel, om nie myself te verwyt omdat ek anders is nie en om sterker vriendskappe te leer bou. O, en om nie die heeltyd te dink ek is vet nie.

Was bekendheid en die vermaaklikheidbedryf jou droom toe jy op skool was?

Om te sing was altyd die droom gewees. Deesdae het ek ander drome en ontdek ek ander talente wat my ook besig hou, alles in die vermaaklikheidsbedryf. Om bekend te wees vir iets wat jy doen is net ’n bonus.