Die aktrise en voormalige Boer Soek ’n Vrou-aanbieder Angelique Gerber het gister ’n inskrywing op haar wenslysie beleef deur op die Dooie See te dryf.

En nog belewenisse waaroor sy al sedert haar tienerjare droom, word by die dag waar. Sy is tans in Israel op ’n soort Christelike pelgrimstog na die plekke waar Bybelse gebeure afgespeel het. Sy het op Instagram ’n besoek aan die stad Kapernaüm as “ongelooflik” beskryf. “Dis die stad waar Jesus gewoon het. Ons het brood gebreek en druiwesap gedrink op die plek waar Jesus drie keer vir Petrus gevra het of hy hom liefhet. Ons het te veel dinge en plekke gesien om alles te noem. “Ek droom al hieroor vandat ek 18 jaar oud is,” het sy oor haar geestelike reis geskryf. “God maak drome waar.”

Op nog ’n besoek is sy en haar ma, Lynette Stemmet, gedoop in dieselfde rivier waar Johannes die Doper vir Jesus gedoop het. “Woorde kan nie beskryf watter ongelooflike dag ons in Israel gehad het nie. Ons het die plek gesien waar God se engel met Maria (Jesus se ma) gepraat het, ’n bootvaart onderneem op die See van Galilea, ek was ’n getuie toe my ma in die Jordaanrivier gedoop is en ek is ook weer gedoop.”
Op ’n ligter noot het sy ook op ’n buitelugtoilet gesit wat in die verlede openlik deur sowel Romeinse vroue as mans gebruik is. Nog plekke op haar reis sluit onder meer in: Elah, waar Dawid en Goliat slaags geraak het, koning Dawid se graf, Jesus se geboortestad, Betlehem, en die bad van Betesda, waar Jesus ’n siek man genees het.

Die toer eindig op 30 Mei en enkele dae hierna haak Angelique en haar verloofde, die oud-Springbok Jacques Potgieter, op ’n Kaapse wynplaas af.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Jennifer Aniston bevestig tragiese nuus

‘Bedwelmde’ skape maak amok op rustige Walliese dorpie

Paaie in Indië besaai met plakkies tydens versengende hittegolf

Krugersdorp-man skiet sy eie blaffende hond dood

Ouers se agt jaar lange stryd met Binnelandse Sake oor hul kind se identiteit