“Ek wil nie ’n wit rok hê nie, ek het al so baie van hulle aangehad,” het die Mama Mia!-aktrise in 2015 aan die vermaaklikheidskanaal E! Online gesê.

Sy het hierdie standpunt bevestig in ’n onlangse onderhoud met Vogue Australië, berig Vanity Fair. Behalwe vir die talle kere dat sy die rol van ’n bruid moes vertolk, het sy ook al dikwels wit rokke op die rooi tapyt gedra, het sy verduidelik.

Amanda het in September verlede jaar bevestig sy is verloof aan die akteur Thomas Sadoski. En volgens Us Magazine het haar eenvoudige verloofring, ’n gewone goue pand, mense aan die praat gehad omdat dit so anders is as die uitspattige ringe waarmee Hollywood-sterre dikwels pronk. Sy het ook in November aangekondig dat sy swanger is.

fbf: the vineyard

A photo posted by Amanda Seyfried (@mingey) on

Talle bekendes het al besluit om weg te bly van wit en eerder in gekleurde rokke getrou.

Die aktrise Julianne Moore het in 2003 in ’n pers rok getrou.

Kaley Cuoco, van die televisiereeks The Big Bang Theory, het in 2013 ’n pienk trourok gekies.

Die aktrise Sarah Jessica Parker het in 1997 in ’n swart rok getrou, maar het verlede jaar in ’n onderhoud gesê sy is spyt oor haar besluit en sou eerder ’n wit rok dra as sy dit kon oordoen, berig Harper’s Bazaar.

Die sangeres Gwen Stefani het in ’n helderpienk-en-wit rok getrou.

En die aktrise Keira Knightley het in ’n kort grys rokkie “ja” gesê.