[caption id="attachment_163174" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Sy het in 2012 begin uitgaan met Olivier, halfbroer van Frankryk se oudpres. Nicolas Sarkozy. En nadat hulle sonder ophef verloof geraak het, het hulle in November 2015 man en vrou geword.

Mary-Kate, wat nes haar tweelingsuster, Ashley, bekend is daarvoor dat sy haar persoonlike lewe privaat hou, het nie destyds op die trouberigte kommentaar gelewer nie. Maar nou het die 30-jarige vir die eerste keer haar huwelikstatus erken in ’n onderhoud met Net-A-Porter se tydskrif, The EDIT.

Tydens die gesprek het die ster erken sy maak haar gesinstyd saam met Olivier, wat 17 jaar ouer as sy is, ’n prioriteit om haar die druk te help balanseer om die Olsen-moderyk saam met Ashley te bestuur.

“Ek het ’n man, twee stiefkinders en ’n lewe; ek moet huis toe gaan en aandete kook,” het sy oor haar gewone daaglikse roetine gesê.

“Ek ry naweke perd,” het sy verder vertel. “Jy vind die ding wat jou help ontspan en as jy dit nie het nie, moet jy dit soek. Of jy brand uit en dan is jy nie produktief nie.”

Die Full House- en New York Minute-aktrises maak ’n punt daarvan om van die sosiale media weg te bly en sê die afstand van die publiek help hulle hul aandag op hul werk toespits, pleks van ongewenste aandag op hul privaat lewe te vestig.

“Omdat ons nie betrokke raak by daardie hele wêreld (van die sosiale media) nie en ons nie Facebook het nie, was ons nooit so aan ons aanhangers verbind nie,” het Ashley in die gesamentlike onderhoud gesê. “In daardie opsig het ons baie beskut gebly.”

Mary-Kate se huwelik met die 47-jarige Olivier is haar eerste; die Franse bankier was van 1997 tot 2011 getroud met Charlotte Bernard, by wie hy twee kinders het.

©Cover Media