Die voormalige ster wat die rol van Sybil Crawley in die geskiedenisdrama Downton Abbey gespeel het, sê sy worstel al die afgelope 13 jaar met ’n eetsteuring. Sy het dié onthulling gedoen in ’n onderhoud met die Britse koerant Daily Telegraph terwyl sy gepraat het oor die druk wat sy as jong aktrise ervaar om ’n sekere manier te lyk.

“Ek het al ’n eetsteuring sedert ek 14 was,” het Jessica (27) gesê. “Ons word geleer hoe ’n sekere standaard van skoonheid en sukses lyk, en ek voel daar moet ’n tyd aanbreek wanneer daar nie meer reëls is nie. Dan kan ons ’n volwasse gesprek hê oor wat dit behels, en ook oor depressie.”
Jessica het bygevoeg dat sy besluit het om oop kaarte oor haar stryd te speel omdat sy hoop dit sal ander help wat dalk dieselfde probleme het, en hulle minder alleen laat voel. Sy het gesê die dapper stap om oor haar stryd met ander en kenners te praat, het haar ook reeds minder alleen laat voel.
“Ek het in terapie werklik myself bekyk en besluit ek gaan myself help om veilig en goed en gesond te voel, en daaroor te praat. Ek het vir so lank alleen gevoel en net weggekruip. En toe begin ek praat en hou my kop omhoog en in plaas van om jammer te sê, het ek besluit om vir myself te sê ek maak saak.” Die Victor Frankenstein-aktrise erken sy was altyd versigtig in onderhoude omdat sy “weggeskram het van dinge”, maar het nou “geleer om op te staan en te sê: ‘Dis wie ek is, en dis oukei.’ ”

© Cover Media