Die voormalige ster van The O.C. het die prokureur Lisa Bloom aangestel om die eksplisiete materiaal uit die openbare oog te hou ná gerugte dat die video reeds aan die base van verskeie volwassefliekverspreiders aangebied is vir uitreiking. Die twee vroue het Woensdag ’n perskonferensie gehou in Los Angeles, waar Lisa onthul het dat ’n regter vir Mischa ’n beskermingsbevel toegestaan het teen ’n eks wie se naam nie bekend gemaak is nie, en bygevoeg het dat enigeen wat die ongemagtigde video uitreik, tronk toe kan gaan.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die aktrise Dinsdag ’n interdik gekry het teen Jon Zacharias en Adam Shaw, omdat sy vermoed een of albei van hulle is dalk betrokke by onderhandelings om die seksvideo vir R6,5 miljoen ($500 000) te verkoop.

Volgens die dokumente, waarvan TMZ ’n afskrif het, bevestig sy dat sy en Jon in Oktober uitgegaan het.

  Sy beskuldig hom daarvan dat hy video’s van hul “intieme oomblikke en ook foto’s van my in die stort, asook ander video’s en foto’s van my sonder klere” geneem het. Mischa hou vol die foto’s is sonder haar medewete of toestemming geneem en beweer sy het Jon gelos toe sy uitvind hy is net saam met haar omdat sy beroemd is.

Sy het toe met Adam, ’n voormalige pel van Jon, begin uitgaan en ontdek Jon het gespog oor eksplisiete foto’s en video’s wat hy van haar het. Sy hou vol Adam het haar ook vir haar roem gebruik en beweer selfs hy het haar handtekening op tjeks vervals. Albei mans is beveel om weg te bly van Mischa en verbied om enige beeldmateriaal van die aktrise te verkoop, versprei, weg te gee of te vertoon. Die jongste verwikkelings kom ure nadat Mischa haar stilte oor die “pynlike verraad” op die perskonferensie verbreek het.

“My grootste vrees is bewaarheid toe ek uitvind iemand wat ek gedink het ek bemin en vertrou, het my intiemste en privaat oomblikke verfilm, sonder my toestemming en met versteekte kameras. En toe vind ek iets nog ergers uit: Daardie persoon probeer hierdie video’s verkoop en openbaar maak.”

© Cover Media