[caption id="attachment_164358" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Die 76-jarige akteurslegende worstel al jare met dié inflammatoriese toestand en het besluit om dagga op die proef te stel toe ’n dokter in Los Angeles vir hom ’n voorskrif daarvoor gee.

Sedertdien gebruik Patrick elke dag die salf, sproei en eetbare dagga om sy pyn te verlig.

Patrick het dié erkenning gemaak toe hy ’n veldtog van die Oxford-universiteit in Brittanje ondersteun om die voordele van daggamedisyne te ondersoek.

“Twee jaar gelede, in Los Angeles, het ’n dokter my ondersoek en vir my ’n voorskrif gegee wat my wettige toestemming gee om daggaprodukte by ’n geregistreerde agentskap te koop, wat ek meegedeel is dalk vir die orto-artritis in albei my hande kan help,” het hy in ’n verklaring gesê.

“Dit is skynbaar ’n toestand met ’n genetiese oorsprong. My ma het baie misvormde en pynlike hande gehad.”

Patrick het verder onthul hy gebruik die salf saans om die pyn te help verlig sodat hy kan slaap en hy spuit dit “verskeie keer per dag aan my vingers, veral my duimgewrigte”. Hy vertel die produkte het “die styfheid en pyn in my hande beduidend verminder”.

Die middels het Patrick so baie gehelp dat hy nou sy “vuiste kan bal, wat nie die geval was voor ek met die behandeling begin het nie”. Die Star Trek-akteur voeg by: “Ek het geen teenreaksies op die behandeling nie en die alternatief sou gewees het om aan te hou om die NSAIG’s (nie-steroïdale anti-inflammatoriese geneesmiddels) Advil, Aleve en Naproxen te drink, wat bekend is dat dit swaar op die lewer inwerk en suurrefluks veroorsaak.”

Patrick is nou vol hoop dat die ondersoek die voordele van daggabehandeling verder sal belig en dat dié middels ook in Brittanje gewettig sal word.

“Dit is ’n belangrike stap vorentoe vir Brittanje in ’n veld van navorsing wat te lank deur vooroordeel, vrees en onkunde teruggehou is,” het hy afgesluit. “Ek glo die navorsingsprogram kan lei tot voordele vir mense soos ek en miljoene ander.”

© Cover Media