Só glo die rolprentfoendi en Huisgenoot-resensent Leon van Nierop, wat sê dat niemand verbaas moet wees as twee akteurs by vanjaar se Oscars in een kategorie ’n prys moet deel nie. “Dit het nog net een keer vantevore gebeur, toe Barbra Streisand en Katherine Hepburn dit in 1968 deel; dalk gebeur dit hierdie jaar weer, omdat dit waarlik moeilik is om te sê wie gaan wen,” sê hy. Wie gaan Sondag (2 Maart) die Oscar-beeldjie vir beste akteur, aktrise, manlike byspeler en vroulike byspeler wen? Hier is Leon se voorspellings.

BESTE AKTEUR 

Die benoemings:

Bruce Dern – Nebraska

Chiwetel Ejiofor – 12 Years A Slave

Christian Bale – American Hustle

Leonardo DiCaprio – The Wolf of Wall Street

Matthew McConaughey – Dallas Buyers Club

Leon se voorspelling: “Chiwetel en Matthew gaan toutrek, maar eindelik sal Matthew wen; sy spel is verstommend. Hy’t ’n gevaarlike aantal gewig verloor vir die rol en eintlik, letterlik, alles uitgehaal om sy eerste Oscar te wen.” Die buiteperd: “Dit sal ’n verrassing wees as Leonardo wen – hy was baie goed – maar ek dink nie hy staan dié jaar ’n kans nie.”

BESTE AKTRISE

Die benoemings:

Amy Adams – American Hustle

Cate Blanchett – Blue Jasmine

Judi Dench – Philomena

Meryl Streep – August: Osage County

Sandra Bullock – Gravity

Leon se voorspelling: “Hollywood en die Oscars-beoordelaars is lief vir Amy en Judy, maar Cate neem die voortou. Woody Allen (die regisseur van die rolprent waarin Cate speel) het slegte publisiteit gekry vanjaar, maar ek dink nie dit gaan Cate se kanse belemmer nie. Van al die rolle speel sy die moeilikste een – en sy vertolk dit meesterlik.” Die buiteperd: “Meryl is Cate se grootste kompetisie, maar ek dink Cate was só goed dat Meryl nie ’n kans staan nie.”

BESTE MANLIKE BYSPELER

Die benoemings:

Barkhad Abdi – Captain Phillips

Bradley Cooper – American Hustle

Jared Leto – Dallas Buyers Club

Jonah Hill – The Wolf of Wall Street

Michael Fassbender – 12 Years A Slave

Leon se voorspelling: “Definitief Jared. Die feit dat hy nie van sy karakter, ’n transvestiet, ’n stereotipe maak nie, en dit met waardigheid, respek en diepte uitbeeld, maak van hom die wenner. Hy’t ook jare laas in ’n rolprent verskyn. Die beoordelaars hou daarvan as akteurs so verdwyn en later weer met ’n skittervertoning tot die grootskerm terugkeer.” Die buiteperd: “As ek kon, sou ek vir Barkhad ’n Oscar gee; sy spel is koelbloedig. Dis noemenswaardig dat dit sy eerste rol is; die Oscars se beoordelaars hou daarvan om vir uitstekende debuutvertolkings ’n prys te gee.”

BESTE VROULIKE BYSPELER

Die benoemings:

Sally Hawkins – Blue Jasmine

Jennifer Lawrence – American Hustle

Lupita Nyong’o – 12 Years a Slave

Julia Roberts – August: Osage County

June Squibb – Nebraska

Leon se voorspelling:

“Jennifer Lawrence is die nuwe Meryl Streep – en sy is ’n fenomeen. In American Hustle het sy ’n stresprinses ongelooflik realisties vertolk, en dit tegelykertyd toeganklik vir die kyker gemaak. Mens kan nie glo dieselfde akteur wat in The Hunger Games speel, speel só goed in ’n rolprent soos American Hustle nie.

“Ek moet bysê: Die Oscar vir beste vroulike byspeler kan vanjaar gedeel word: Lupita kan dit ook wen. Wanneer die stemme getel word, sal dit waarskynlik met tussen agt en 10 stemme verskil, maar moenie verbaas wees as die uitslag gelykop is nie. Lupita is ’n uitstekende akteur, maar dit tel dalk teen haar dat 12 Years a Slave haar eerste rol is; die beoordelaars mag dalk sê sy moet nog haar slag, soos Jennifer, bewys. Aan die keersy tel dit ook teen Jennifer dat sy verlede jaar ’n Oscar vir beste aktrise gewen het.”

– Christiaan Boonzaier