Jeremy R. Lindholm (41) van Spokane, Washington, is Woensdag in hegtenis geneem nadat iemand gesien het hoe hy na bewering sy meisie aanrand.

Lindholm, wat die rol van Mickey vertolk in die TV-reeks Twin Peaks, wou hê sy meisie moet by ’n nabygeleë winkel vir hom Kool-Aid gaan koop voor sy teruggaan werk toe. Sy het geweier.

Dit was egter nie wat Lindholm wou hoor nie.

Die voorval het plaasgevind in ’n boetiek wat geslotekring-televisiekameras het.

In die video-opname kan glo gesien word hoe hy haar meer as 12 keer met ’n bofbalkolf teen die kop slaan, wurg, op die grond neergooi en daarna op haar spring. Volgens die slagoffer het hy ook gesê hy wil haar doodmaak.

Lindholm het met die bofbalkolf nog in sy hand van die toneel gevlug. Die polisie het hom egter kort daarna vasgetrek.

Die vrou is per ambulans na die hospitaal geneem. Luidens berigte verkeer sy nie vanweë die aanval in lewensgevaar nie.

Die vervaardiger van Z Nation, Steve Graham, het bevestig Lindholm verskyn gereeld as ’n zombie in dié wetenskapsfiksiereeks. As Lindholm skuldig bevind word, sal hy sy rol kwyt wees.

Showtime, wat die nuutste Twin Peaks-seisoen uitsaai, het volgens die Spokesman Review nog nie op enige navrae gereageer nie.

Bronne: dailymail.co.uk, pagesix.com, spokesman.com