Antonio Banderas het bevestig dat hy in Januarie ’n hartaanval gehad het.

[caption id="attachment_165646" align="alignnone" width="600"]Antonio Banderas (Foto: Oscar Gonzalez, WENN.com) Antonio Banderas (Foto: Oscar Gonzalez, WENN.com)[/caption]

Die akteur is hospitaal toe geneem nadat hy “verskriklike borspyn” ervaar het toe hy by sy huis in Surrey, Engeland geoefen het. Hy het daarna bevestig hy het ’n “episode” gehad en die medici geloof wat hom gehelp het. Maar hy het nie verdere besonderhede daaroor verskaf nie.

Die ster van The Mask of Zorro-faam het nou onthul hy het ’n operasie ondergaan waar drie stents in sy are geplaas is. Hy het die nuus gedeel tydens ’n privaat seremonie in sy tuisland in Malaga, Spanje, waar hy met ’n loopbaantoekening vereer is.

“Ek het ’n hartaanval op 26 Januarie gehad,” het hy Saterdag gesê.

“Dit het nie enige permanente skade aangerig nie en ek is nou op die herstelpad. Dis iets wat elke dag met baie mense gebeur. Ek het dit nie weggesteek nie, maar ek wou nie hê dit moes meer aandag geniet as dit waardeur ander mense gaan nie. Dit was nie so dramaties soos dit uitgemaak word nie.”

Antonio het die hartaanval aan werkstres en gereelde reis toegeskryf en erken hy “herbesin nou oor baie dinge”.

Daar is verlede Maandag berig Antonio is na die Genolier-kliniek naby Geneva geneem. Volgens bronne is hy vir borspyn behandel.

’n Woordvoerder vir die 56-jarige akteur het egter gesê Antonio het mediese ondersoeke ondergaan en was “gesond”.

Die akteur het draak gesteek met die skindernuus deur ’n Facebook-video van homself te deel waar hy ’n muur in Switserland uitklim. Hy’t daarby geskryf: “Blykbaar het sommige media vandag ’n pers-hartaanval gehad.”

– Cover Media