“Die antropometriese data van Suid-Afrikaners het in die afgelope drie dekades beduidend verander,” sê prof. Hans de Ridder van die NWU se skool vir biokinetika, ontspanning en sportwetenskap in ’n verklaring.
Kinders wat minder as 10 000 treë per dag gee, loop gevaar om chroniese siektes soos vetsug, hoë bloeddruk, cholesterol of tipe-2-diabetes te kry.

“Ons ervaar ’n groot toename in oorgewig en vetsug onder volwassenes en kinders. Navorsing toon amper twee derdes van die Suid-Afrikaanse bevolking is oorgewig.”

Antropometrie is die wetenskap agter die meet van mense se liggaam vir gesondheids- en sportdoeleindes. Dit word gebruik om mense volgens vetsug, oorgewig en liggaamsmassa-indeks (LMI) te klassifiseer om te bepaal of hulle ’n gesondheidsrisiko het of nie.

Antropometriste neem basiese mates soos velvoue, ledemaat- en bolyfomtrek en skeletbeenlengtes, asook gevorderder mates soos persentasie liggaamsvet, liggaamsvolumes en oppervlakareas.

Hans sê in teenstelling met die geval in ander ontwikkelde lande, het vroue in Suid-Afrika ’n groter probleem as mans, met sowat 70 persent van alle vroue wat oorgewig is.

Sowat 38 persent van oorgewig vroue – nagenoeg twee uit vyf – word as klinies vetsugtig geklassifiseer. Dit beteken ’n LMI van meer as 30.

“Ons omskryf vetsug as die abnormale of oormatige akkumulasie van vet in die menslike liggaam wat gesondheidsrisiko’s soos kardiovaskulêre siekte, hoë bloeddruk en diabetes inhou,” sê Hans.

Hy het die toename in gewig toegeskryf aan ’n ongesonde leefstyl wat onder meer oormatige inname van ongesonde of verkeerde kosse en in die besonder te min oefening insluit.

Kinders is ook gemeet en gemonitor vir groei, volwassenheid en in die besonder vetsug en wanvoeding.

“Vorige navorsing aan die NWU het bewys Suid-Afrika se kinders het, naas Amerika en Brittanje, die derde hoogste vetsugsyfer ter wêreld,” sê Hans.

“Kinders wat minder as 10 000 treë per dag gee, loop gevaar om chroniese siektes soos vetsug, hoë bloeddruk, cholesterol of tipe-2-diabetes te kry.”

Daarom is dit uiters belangrik dat kinders van jongs af aktief moet wees.

“Hulle moet speel, liggaamsoefeninge op skool doen, aan sport deelneem en ’n aktiewe leefstyl handhaaf,” sê die professor.

“Die rol wat ons skole en veral die ouers in hierdie verband speel, is ook uiters belangrik om te verseker dat ons Suid-Afrikaanse kinders ’n aktiewe en gesonde leefstyl handhaaf.”

Hans is die enigste vlak-vier-antropometris in Afrika uit net 16 wêreldwyd wat op die hoogste vlak gekwalifiseer is.

News24