MAAK die pad oop, maak dit oop, sing Brenda Fassie in Xhosa in die sitkamer van die Wes-Kaapse premier se kantoor in Kaapstad.

Helen Zille doen wat sy deesdae nogal gereeld op verhoë oor die land heen doen: Sy dans. Dis so ’n bietjie ontspanning voor die volgende lang vergadering, verduidelik sy effe uitasem terwyl die heupe en boude swaai, die hande wuif, die gesig saamleef met die woorde van die liedjie wat ’n mooi nuwe toekoms beloof.

Soms huiwer sy net ’n oomblik, maar val dan weer in by haar Xhosa-leermeester, Thandi Mpampo-Sibhukwana, al klikkend met vingers en tong terwyl hulle saamsing met die liedjie op die premier se skootrekenaar.

“Vul' indlela wemamgobhozi . . . take off your specs, don’t be jealous,’’ sing Helen ook in Engels sodat ons kan verstaan terwyl sy en Thandi hul brille afhaal, dramaties in die rondte tol, met die vinger na die denkbeeldige trougaste wys en hulle met groot gebaar nooi om saam fees te vier . . .

Die politikus, wat na die mening van die ANC se jeugleier, Julius Malema, “soos ’n aap dans’’, het nie ’n saak met sy kritiek nie. “Ek is mal oor dans en het die beste leermeesters,’’ sê die DA-leier, wat vlot Xhosa praat en aan die einde van die liedjie self verduidelik waaroor dit gaan.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 21 April 2011