Dis in ieder geval wat die Litause dorpie Ramygala die afgelope sewe jaar jaarliks doen, vertel Loreta Kubiliuniene, die organiseerder van die mooiste bok-kompetisie. Op 26 Junie was dit weer sulke tyd. Sowat 500 mense het vanjaar die versengende hitte getrotseer om die feestelike geleentheid by te woon. ’n Parade is gehou om hulde te bring aan die bok, ’n tradisionele simbool van dié gemeenskap.

’n Orkes het die pas aangegee, dansers in fraai kostuums het opgetree en selfs ’n “koning” en “koningin” het oor die vrolikheid toesig gehou.

Maar dit was die bokke self wat vir die grootste vermaak – en drama – gesorg het. Party was alte fyntjies uitgevat, ander weer het geglo au naturelle is meer as goed genoeg om al die kurwes en krulsterte ten toon te stel. Die groot vraag is natuurlik watter maatstawwe ingespan word om te kyk wie die mooiste onder die mooies is. Moet hy of sy ’n ware “bok vir sports” wees of is daar ander eienskappe wat tel? Net soos met enige skoonheidskompetisie speel ’n mooi vel ’n groot rol. Ook word na die tande geloer. Dis te betwyfel of beoordelaars by ander skoonheidskompetisies toegelaat sou word om die deelnemer se bek oop te sper, maar hier is dit deel van die proses. Ferdinandas Petkevicius (74) probeer al die afgelope ses jaar dat een van sy bokke die kroon wen. Vanjaar was hy gelukkig. Sy 16 maande oue Demyte, oftwel “Kolletjie”, het hom breed laat glimlag. En met rede – sy het vyf ander finaliste stof in die oë geskop.

“Die enigste ding wat ons nie voorberei het vir die kompetisie nie, was om haar naels te verf – ons het te laat daaraan gedink,” het die trotse eienaar ná die tyd gesê.

Sy, en Kolletjie, se prysgeld? Koeke, flesse vol heuning, boeke en ’n geskenkbewys vir ’n haarsny.

Dis onseker of Kolletjie of Ferdinandas van die geborgde haarsny gebruik gaan maak.

Bronne: reuters.com, bbc.co.uk, huffingtonpost.com