oscaraimee-0
“Ek is verstom oor die valse en onverantwoordelike beriggewing in sekere koerante vandag (Sondag),” het sy op Twitter gesê. “Feite: Ek en Carl het Saterdag ’n besoek van 45 minute sonder kontak met Oscar gehad. Al ons besoeke was sonder kontak, soos regulasies voorskryf.”

Die Sunday Times het berig dat Aimee en haar broer Carl toegelaat is om vir Oscar ballonne, ’n geskenksak en koek te bring wat buite die tronk gekoop is.

Hulle het berig die besoek het amper twee uur geduur, ten spyte van departementele riglyne wat sê besoeke mag nie langer as ’n uur duur nie. Die koerant het ook beweer die twee se motors is in die tronkperseel toegelaat sonder dat dit ondersoek is, asook dat hulle toegelaat is om ’n ander uitgang te gebruik om die koerant se fotograaf te vermy. Aimee het die volgende getwiet: “My broer het niks ontvang wat tronkregulasies nie vir groep B-gevangenes toelaat nie. Daar was nie koek of ander bederfbare produkte nie.

'Trouens, hy het net toiletware en briewe op sy verjaardag ontvang.'

“Trouens, hy het net toiletware en briewe op sy verjaardag ontvang. Ons het ballonne saamgeneem om hom deur die glasafskorting te wys. Ons het respek vir die reëls. Die korrektiewe beamptes is beleefd maar ferm – soos hul posisie vereis.”

Logan Maistry, ’n woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het Sondag gesê Oscar kry nie voorkeurbehandeling nie, maar die departement sal steeds ondersoek na die bewerings instel.

Oscar is op 21 Oktober vyf jaar tronkstraf opgelê weens die strafbare manslag van sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp. Vir die skietvoorval by die restaurant Tasha’s in Sandton, Johannesburg, in Januarie verlede jaar het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vyf jaar opgeskort is. Regt. Thokozile Masipa het beslis die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.