Vanoggend is dit rustig hier by die Beitbrug-grenspos in Limpopo nadat koerantopskrifte vroeër vandeesmaand die nuus uitbasuin het: “Zimbabwe brand” en “Beitbrug tydelik gesluit ná geweld”.

[caption id="attachment_132145" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Die Beitbruggrenspos in Limpopo is al sedert 1929 die grootste en besigste padgrenspos in Suid-Afrika. Foto: Martin de Kock[/caption]

Dit is trouens so stil hier dat smouse verveeld tussen die tientalle stalletjies rondsit wat sowat 500 m voor die grens aan die Suid-Afrikaanse kant ingeryg langs die N1 lê. Van verflenterde tafels dryf hulle handel met alles van blikkieskos en koeldranke tot selfoonlaaiers en ander goedkoop elektroniese toebehore.

[caption id="attachment_132146" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Daar is weinig klante by die stalletjies in Beitbrug. Foto: Martin de Kock[/caption]

Maar vandag is die hoeveelste dag dat hulle weinig klante het. Waar hulle voorheen moes bontstaan om ’n stroom Zimbabwiërs te bedien wat in Suid-Afrika kom inkopies doen, kom hul klante nou net drupsgewys oor die grens.

Geskeurde seil of stukke sinkplaat dien as afdakke om die smouse teen die elemente beskerm. By een stalletjie prut stywe pap in ’n groot swart driebeenpot bo-op ’n houtvuur. Onder nog ’n gehawende seildak verwyl ’n groep smouse hul tyd om ’n potspeltafel.

[caption id="attachment_132147" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Stilte weergalm in omliggende gebied. Foto: Martin de Kock[/caption]

Die rustigheid is in skrille kontras met daardie Vrydag, 1 Julie, toe geweld aan weerskante van die grenspos uitgebreek het nadat die Zimbabwiese regering die kommersiële invoer van handelsware – voedsel inkluis – vanaf Suid-Afrika verbied het. Weens ’n aanvanklike misverstand het doeanebeamptes aan die Zimbabwe-kant toe ook voor die voet alle inkopies van individue gekonfiskeer en in ’n pakhuis op die grens toegesluit. Toe geweld daarna uitbreek, het dié pakhuis in ligte laaie gestaan.

Nadat die grenspos tydelik gesluit is, het die stroom mense wat daagliks tussen Zimbabwe en Musina reis, oornag opgedroog. Nou eers word Zimbabwiërs weer toegelaat om in groepies die Beitbrug oor te steek om aan die Suid-Afrikaanse kant te kom inkopies doen.

[caption id="attachment_132148" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Vragmotors dam voor die grenspos op met vrag vir Afrika-lande soos Zambië en Malawi. Foto: Martin de Kock[/caption]

Die Beitbruggrenspos in die Limpopo-provinsie is al sedert 1929 die grootste en besigste padgrenspos in Suid-Afrika. Die legendariese brug oor die Limpoporivier het dekades lank Suid-Afrikaners na die destyds welvarende Rhodesië en later bankrot Zimbabwe geneem, en mense van daardie kant af hierheen gebring.

Deesdae dra die oorspronklike Beitbrug net spoorverkeer. ’n Nuwe brug is in 1995 reg langs die oue gebou om die drukker padverkeer te hanteer, maar toeriste sal die twee brûe nie sonder ’n paspoort kan sien nie.

Terwyl die straatsmouse op beter dae wag, dam swaar vragmotors voor die grenspos op met vrag vir ander Afrika-lande soos Zambië en Malawi. Op besige dae kan dit hulle tot vier uur neem om oor die Beitbrug te kom, vertel een bestuurder. Maar vandat invoere na Zimbabwe stopgesit is, gaan dit gouer.

’n Taxi laai vyf vroue by ’n vulstasie net duskant die grenspos af. Hulle dra swaar aan hul inkopies, hoofsaaklik kruideniersware. Die winkelrakke in Zimbabwe is leeg, vertel een. Gelukkig woon sy op die dorpie Lutombe, net sowat ’n uur se ry anderkant die grens.

Met haar familie in die hoofstad, Harare, sowat 600 km verder, gaan dit baie erger. “Dit is te ver om hier winkels toe te kom,” verduidelik die vrou. Sy skets ’n prentjie van hongersnood en mense dieper in Zimbabwe wat bitter swaarkry. Daar is nie werk of kos nie . . .

Dit het die meeste mense se laaste voedingsbron laat opdroog en geweld laat losbreek.

[caption id="attachment_132220" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Op besige dae kan dit glo tot vier uur neem om oor die Beitbrug te kom. Foto: Martin de Kock[/caption]

Die vyf Zimbabwiese vroue by die vulstasie sê hulle weet van die voorval toe die pakhuis aan die brand gesteek is. Die woede oor dié sinlose daad is duidelik op hul gesig geskryf. Hulle kan nie verstaan hoe mense ’n pakhuis vol kos kan afbrand nie. Hul land het dan skaars kos.

Dan maak hulle hul sakke bymekaar en stap stadig na die grenshekke, verby die doeanekantoor waar ’n beampte op die stoep in die son sit. Verder aan is die aksyns-vrye winkel waar oorgrensbesoekers onder meer goedkoop wyn, duur whisky en sigarette kan koop. Ook hier is byna geen klante nie. Aan die ander kant van die winkel stap die vroue deur ’n hek na die doeanepos waar hulle hul paspoorte moet laat stempel.

By die ingang van die grensposgebied leun ’n man teen die enjinkap van sy blou tweetonbakkie wat hy op die sypaadjie parkeer het. Hy bedryf ’n vervoeronderneming en het gewoonlik elke dag oor die grens gery met ’n vrag handelsware vir Zimbabwiese winkels. Nou sit hy maar hier en “hoop iets gebeur”.

Baie mense waag ’n kans met die doeanebeamptes aan die Zimbabwiese kant, beweer hy. Grootskaalse omkopery vind glo plaas om vrag deurgelaat te kry. Hy haal sy skouers op. “Hulle is ook net mense.”

Behalwe omkopery, is daar smokkelary, vertel hy. Zimbabwiese handelaars gebruik smokkelaars om handelsware oor die grens te neem. En danksy talle plekke waar hulle die grens tussen die twee lande onwettig kan oorsteek, is dit nie eintlik moeilik nie. Een daarvan is skaars 20 km van die Beitbrug-grenspos waar ’n onbemande hek in die grensdraad oopstaan.

[caption id="attachment_132150" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Die Musina China Wholesale Centre was 'n jaar gelede nog 'n miernes van bedrywigheid, maar nou is dit doodstil. Foto: Martin de Kock[/caption]

Skaars 2 km van die grenspos het Limpopo se regering in 2011 die Musina China Wholesale Centre met groot fanfare geopen nadat Musina tot ’n ekonomiese ontwikkelingsone verklaar is. Beleggers uit Indië en China bedryf dié sentrum van R600 miljoen. Die sowat 200 winkeleienaars verskaf handelsware aan die Zimbabwiese smouse wat dit anderkant die grens verkwansel. Maar terwyl die sentrum selfs nog ’n jaar gelede ’n miernes van bedrywigheid was, is dit vandag doodstil.

Ilssa Maldui van Malawi sit op ’n plastiekstoel voor ’n meubelwinkel wat hy bestuur, maar hy weet daar sal vandag weer feitlik niemand opdaag nie. Hy beduie na die leë winkelsentrum voor hom.

Sy winkel het gewoonlik sowat 60 meubelstukke per maand verkoop, maar dit het ál minder geword namate die geld in Zimbabwe opgedroog het. Nou is meubels ook op Mugabe se taboe-lys van goedere wat nie langer ingevoer mag word nie.

Ilssa verdien ’n salaris van R3 500 per maand waarmee hy sy vrou en kind, en ook agt susters in Malawi moet onderhou. “Die toekoms lyk duister,” sê hy en skuif op sy stoel rond.

[caption id="attachment_132149" align="alignnone" width="600"]Pinashe Mutemi en Brian Kalshoven het altwee noue bande met Zimbabwe, maar werk nou in Musina. Foto: Martin de Kock Pinashe Mutemi en Brian Kalshoven het altwee noue bande met Zimbabwe, maar werk nou in Musina. Foto: Martin de Kock[/caption]

Zimbabwe het nou finaal verkrummel, som Pinashe Mutemi die situasie op. Hy is ’n Zimbabwiese burger wat as bestuurder by die Musina-hotel in Limpopo werk. Die probleme in die buurland het ook ’n regstreekse uitwerking op Musina, die noordelikste dorp in Suid-Afrika, sowat 15 km van Beitbrug.

“Omdat geen kosprodukte meer in Zimbabwe vervaardig word nie, kom koop handelaars en smouse gewoonlik hul voorraad hier. Maar die afgelope week was die strate stil en die winkels leeg.”

Later sluit Brian Kalshoven, eienaar van die nuusblad Musina Online, by Pinashe aan. Albei kom oorspronklik van Gweru in die Zimbabwiese middelland, maar Brian het intussen Suid-Afrikaanse burgerskap gekry. Hy werk sedert die 1970’s ook as klaringsamptenaar by die grenspos. Hy vertel tot 1979 was dit nog ’n oop grenspos en burgers van die twee lande kon sonder paspoorte vrylik heen en weer beweeg.

[caption id="attachment_132151" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Skaars 20 km van die Beitbrug-grenspos is hierdie onbemande oop hek in die grensdraad wat deur smokkelaars gebruik word. Foto: Martin de Kock[/caption]

Ja, hy het ook gehoor van Zimbabwiese smokkelaars wat by onbewaakte grensoorgange die land binnekom om kos vir hul landgenote te soek. Maar nie net smokkelaars gebruik ingange in die grensdraad wat plek-plek oopstaan nie; drie maande gelede het drie Zimbabwiese olifante deurgestap en selfs op die Musina-gholfbaan gewei, vertel Brian.

[caption id="attachment_132153" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Olifante kom tot by die grensdraad. Foto: Martin de Kock[/caption]

Nes hul menslike landgenote het dié olifante maar in Suid-Afrika kom kos soek. . .

[caption id="attachment_132154" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Foto: Martin de Kock[/caption]