Danksy ’n span mediese kundiges sal ’n 8-jarige seun wie se oog deur ’n deurhandvatsel deurboor is, nie sy sig verloor nie.

[caption id="attachment_145790" align="alignnone" width="600"]Foto: Netcare 911 Foto: Netcare 911[/caption]

Ryno van der Westhuizen het op Donderdag 6 Oktober tuis gespeel toe hy teen ’n deur val en die handvatsel in sy linkeroogholte steek.

Die handvatsel het onder sy linkeroog afgebreek en daar het ’n stuk metaal van 5 cm onder die oog vasgesteek. Sy ma het met hom na die naaste hospitaal gejaag.

’n Rekenaartomografie-skandering het getoon die metaal het sy brein met millimeters gemis en wonderbaarlik ook nie sy oogsenuwees beskadig nie.

Hoewel Ryno vir die oomblik veilig was, het die dokters voor die probleem te staan gekom om die voorwerp te verwyder. Hoe langer so ’n voorwerp daar bly, hoe hoër is die risiko van infeksie en ander komplikasies.

Volgens Jonet van der Westhuizen, Ryno se ma, is hy na die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton geneem vir gespesialiseerde snykunde.

Ongewone besering

Volgens dr. Wiebo van der Meulen, ’n konsult-neurochirurg, was hy geskok en verbaas oor Ryno se besering.

“ ’n Mens sou katastrofale skade aan óf die oog óf die brein verwag, maar die skanderings het wonderbaarlik geen skade hoegenaamd getoon nie. Hy is ’n uiters gelukkige seuntjie.”

Ná omvattende beraadslaging het Wiebo en ander dokters saamgestem die handvatsel moet verwyder word.

[caption id="attachment_145792" align="alignnone" width="600"]Die handvatsel het onder sy linkeroog afgebreek en daar het ’n stuk metaal van 5 cm onder die oog vasgesteek. Foto: Netcare 911 Die handvatsel het onder sy linkeroog afgebreek en daar het ’n stuk metaal van 5 cm onder die oog vasgesteek. Foto: Netcare 911[/caption]

Ryno is geneem na die nabygeleë Netcare Union-hospitaal, waar die operasie in ’n kateterisasielaboratorium gedoen is. Die toerusting in so ’n laboratorium word gewoonlik gebruik om ingewikkelde hartvatsiektes met die minimum ingryping te diagnoseer.

Die dokters het ’n angiogram uitgevoer en ’n kleurstof gebruik sodat hulle bloed- en limfvate kon sien om die veiligste roete te bepaal waarlangs hulle die deurhandvatsel kon verwyder.

“As ons die stukkie metaal uit sy oog moes haal sonder die hulp van hierdie soort toerusting, sou daar ’n hoë risiko van ernstige bloeding wees en dit sou onherstelbare skade kon veroorsaak,” het Wiebo verduidelik.

Ryno se operasie op 8 Oktober het net langer as ’n uur geduur en daar was ’n narkotiseur, ’n radioloog wat in neuro-ingryping spesialiseer en ’n oogspesialis betrokke.

[caption id="attachment_145794" align="alignnone" width="600"]’n Rekenaartomografie-skandering het getoon die metaal het sy brein met millimeters gemis. Foto: Netcare 911 ’n Rekenaartomografie-skandering het getoon die metaal het sy brein met millimeters gemis. Foto: Netcare 911[/caption]

Volgens Wiebo het Ryno volkome herstel. Hy het bygevoeg dis elke ma se nagmerrie om te kyk hoe haar kind deur die swaaideure van ’n operasieteater verdwyn.

Ryno is intussen terug skool toe en daar was geen komplikasies ná die operasie nie.

“Die span dokters het hom ’n tweede kans op die lewe gegee en dis die beste geskenk wat enige seun moontlik kon verlang,” het sy dankbaar en verlig gesê.

Bron: News24