Dit was bedrywig in Huisgenoot se kantoor die afgelope week. Toe dit blyk wat die omvang is van die aardbewing en tsoenami in Japan, het die redaksie besef hierdie is geskiedenis wat Huisgenoot vir sy lesers op papier moet verewig.

Foto’s moes van oorsese nuusdienste bekom word. Joernaliste het geskarrel om by te bly terwyl die storie ontvou het. En natuurlik moes hulle kundige menings kry ten einde vir Huisgenoot se lesers die storie agter die storie te kon aanbied.

Wat eers net ‘n natuur-ramp was, het gedreig om ‘n kernramp te word toe die Foekoesjima Daiitsji-kernaanleg in Japan begin rook en stoom uitblaas. En vinnig moes ‘n inligtingsgrafika geskep word om die omvang van dié krisis te verduidelik.

Die produk van al die harde werk is ‘n foto-bylaag van 16 bladsye wat saam met hierdie week se Huisgenoot verkoop sal word. Daarby is nog 15 bladsye van nuus en agtergrond-inligting in die tydskrif verpak. Daar is onder meer inligtingsgrafika, vergelykings met ander aardbewings en ‘n stap-vir-stap vertelling van hoe die drama ontvou het.

“Die hele wêreld se oë is op hierdie drama. Die nuus op televisie en in die koerante vertel die storie in stukkies en met flitse van beeldmateriaal. Ons weet ons kan vir ons lesers hier iets bied, wat die krisis in sy geheel beskryf,” sê Linda Pietersen, redakteur van YOU, wat die bylaag help skep het.

Mari van der Berg, kreatiewe hoof van Huisgenoot, sê daar was ongelooflike foto-materiaal, maar dit het ‘n fyn oog geverg om tussen al die beskikbare materiaal dié te kies wat die gebeure die beste vasvang. Uiteindlik is sy baie tevrede met die resultaat.

Die nuwe Huisgenoot is van Vrydag af op die rak in die Kaap en van Maandag af in die res van die land. Kyk gerus en laat weet ons wat jy daarvan dink.