Op 1 Maart was dit presies agt maande vandat ek in Kaapstad kom woon het.

Ek het verlede jaar al die besittings wat ek in my 27 lewensjare bymekaargemaak het, in sowat 50 genommerde bokse gepak. Ek het my oulike (uiters bekostigbare) tuinwoonstel, die Cresta-winkelsentrum, die Northcliff-koppie en alles anders in Johannesburg wat my daar laat tuis voel het, vaarwel toegeroep.

Ek het nie eintlik my ouers gegroet toe hulle my by die lughawe aflaai nie, want ek het te veel en te hard gehuil. Ek het laatnag in die vliegtuig gesit en seker tot duskant Welkom nog trane afgevee oor die onbekende wat soos die donker nag voor my lê.

(Ek verbeel my soms my lewe is ’n vreeslik dramatiese fliek en dan huil ek teatraal. Voor ek Kaap toe verhuis het, het ek hard in my kar gehuil wanneer ek na die liedjie Gee Jou Hart vir Hillbrow geluister het. Dan het ek my ingedink hoe hartseer ek nog in die toekoms gaan wees wanneer ek terugverlang. Ek klink nou soos ’n vreeslike pessimis. Ek is nie.)

In agt maande was daar tientalle aanpassings, nuwe mense en natuurlik ook nuwe lesse. In agt maande het ek die volgende wysgeword oor die lewe in die Kaap:

1. Die verkeer in Kaapstad is erger as die verkeer tussen Pretoria en Johannesburg.

Ek weet die mense in Pretoria weier nou om my te glo. Maar kom ek stel dit so:

My eerste werkdag in die Kaap was op ’n Vrydag en dit was skoolvakansie. Ek moes negeuur die oggend op kantoor wees. Ná meer as een waarskuwing van: “Jy ry hopeloos te vroeg. Dis skoolvakansie!” het ek in elk geval halfagt uit Bellville vertrek.

Ek het 19 km verder, paniekbevange en oortuig dat ek my nuwe werk kwyt is, skuins voor tien die kantoor binnegestap.

2. ’n Mens leer om vir jou kar te bid.

In Johannesburg hoop en bid jy jou motor word nie gesteel nie. Maar in die Kaap bid jy veral vir twee goed:

1. Vir parkeerplek.

2. Dat iemand nie deur die nag jou motorruit uitslaan nie. (Dit kos meer as R900 om daai simpel venster te vervang. En nee, daar was níks in my kar nie.)

3. Daar is ’n kanon wat jou elke dag herinner dat jy jou kosblik kan uithaal om jou middagete te eet.

Om die een of ander rede het niemand my al ooit van die “Noon Gun” vertel nie.

Terwyl ek eendag in die strate van Groenpunt rondgestap het, het ’n geweldige slag my byna ’n hartaanval gegee en my daarna ’n kwartier lank bewerig laat voel. Was dit ’n ontploffing? ’n Bom? Het ’n massiewe trok iewers omgeslaan?

Dit was die sogenaamde Noon Gun – ’n kanon op Vlaeberg wat afgevuur word om die einde van die oggend aan te dui. Deesdae herinner dit my wanneer ek weer kan eet.

4. Die wind waai.

Hulle jok. Die Suidooster is eintlik ’n orkaan.

5. Die mense hier gaan nie so baie winkelsentrums toe nie.

Ek het grootgeword met die Gautengse mall-kultuur. Saterdae, net ná my Park Run-drafsessie het ek graag in die Cresta-winkelsentrum gaan rondloop. Ek het winskopies gaan soek en later ’n vriendin vir koffie en koek ontmoet terwyl strakgesig-waentjiestoters verbystroom. Soms was ek uitspattig en het ek Sandton City toe gery.

Maar toe ek my nuwe kollegas se gesig sien toe hulle hoor ek het my naweek in ’n winkelsentrum in die noordelike voorstede deurgebring, het ek besluit ek gaan net vir dringende grootmaat-inkopies mall toe. En wanneer ek wil gaan fliek. (Klein treetjies, oukei?)

6. Kapenaars leef buite.

Maandae is my sosialemediaplatforms vol foto’s van Kapenaars op wynplase, langs die see, op die promenade, in buitelugkuierplekke, op berge en in dale met stapskoene en sonbrille.

Gevolglik kry ek soms angsaanvalle wanneer ek oor ’n naweek te lank in my woonstel is. Ek woon mos nou in die Kaap; ek moet eintlik iewers buite wees, al is dit net in die straat voor Checkers. (Behalwe wanneer die wind waai; dan bly ek binne.)

Windwaai in Houtbaai.

A post shared by Charlea Sieberhagen (@charleasieberhagen) on

7. Dis ’n wêreldstad dié.

Wanneer ek in die einste Checkers in Kloofstraat, Tamboerskloof, rondstap, voel dit asof ek in Holland, Duitsland of Amerika inkopies doen soos wat die mense met uitlandse aksente tamaties en rooibostee koop. Soms voel dit asof ek in die middel van China is. Dit voel eintlik dikwels asof ek in China is.

8. Die berg is régtig die beste.

’n Cliché, ek weet.

Wanneer ek my oë soggens oopmaak, kyk ek reg in Tafelberg vas. My woonstel se uitsig is goud werd. (En natuurlik moet ek so te sê in goud betaal vir die voorreg om hier te woon.)

Ek doen moeite om elke dag na die berg te kyk en dit raak te sien. Want om Tafelberg so naby te hê en die watervalwolke op winderige dae teen die agtergrond van ’n pienk skemer te aanskou, bly darem net magies.

Wakker word in Kaapstad. ? Lente is in die lug. #nofilter

A post shared by Charlea Sieberhagen (@charleasieberhagen) on