Toe Suid-Afrikaners Woensdagoggend wakker word, was dit met die skoknuus dat Donald Trump voor loop in die stryd om 270 stemme in die kieskollege te kry. En net ná halftien, terwyl die meeste van ons se werkdag al goed aan die gang was, was dit finaal: Donald Trump word die 45ste president van Amerika. Sy mededinger Hillary Clinton van die Demokratiese Party het hard in die stof gebyt.

Politieke kommentators, ontleders en ekonome bekyk al sedert dié aankondiging die gevolge en die betekenis van Trump se oorwinning, maar hier is agt interessante punte van vanjaar se Amerikaanse presidentsverkiesing:

  1. Hillary Clinton het nie meer vrouestemme op haar verenig as pres. Barack Obama nie. Slegs 54 persent van vroue het vir haar gestem vergeleke met Obama se 55 persent in 2012. Trump het volgens The Telegraph ook minder vrouestemme gekry as Mitt Romney, die Republikeinse kandidaat in 2012. Maar ten spyte van die berigte oor Trump se neerhalende aanmerkings oor vroue, het hordes vroue hulle beslis nie skielik agter Clinton geskaar nie.
  2. Ouer mense hou meer van Trump. Altesaam 49 persent van mense bo 65 het vir Trump gestem. Dit het Trump gehelp om die groot deelstaat Florida te wen, want dié staat het ’n aansienlike getal afgetredenes. En toe Trump hier seëvier, het hy dadelik 29 stemme in die kieskollege in die sakkie.
  3. Florida is maar een van die deelstate wat ’n groot rol kan speel om die uitslag van die verkiesing te bepaal. Ohio en Noord-Carolina is ook groot deelstate wat baie stemme in die kieskollege het, met onderskeidelik 18 en 15. Daarom is die stryd om dié state altyd vurig. Trump het ál die state se kieskollege verower.
  4. Die grootste verrassing was egter toe Pennsilvanië se kieskollege in Trump se guns swaai. Volgens The Telegraph het dié deelstaat sedert 1988 nie ’n Republikeinse presidentskandidaat gesteun nie. Pennsilvanië het Amerikaners ook op die punte van hul stoel gehad omdat die staat lank gevat het om hul finale uitslag bekend te maak – hulle moes keer op keer seker maak hulle maak nie dalk ’n fout nie.
  5. Volgens meningspeilings ná die verkiesing het Clinton minder stemme van jong mense gekry as Obama in 2012, berig The Telegraph . Altesaam 60 persent van die kiesers onder 30 het in 2012 vir Obama gestem. Maar vanjaar het net 55 persent van jong mense vir Clinton gestem.
  6. Altesaam 81 persent van die mense wat vir Trump gestem het, het in die meningspeilings ná die verkiesing aangedui dat hulle “wit Christene” is, berig die New York Times .
  7. Altesaam 51 persent van mense wat ’n matriekkwalifikasie of minder het, het eerder vir Trump gestem terwyl 45 persent van hulle vir Clinton gestem het. Maar van mense met nagraadse kwalifikasies, het 58 persent vir Clinton gestem en 37 persent vir Trump.
  8. Clinton het die meeste stemme gekry, want meer kiesers het hul kruisie agter haar naam getrek as agter Trump s'n. En nes Al Gore in 2000, het Clinton ten spyte van die meeste kruisies agter haar naam die verkiesing verloor.

    Maar hoe kan dit dan wees? wonder jy dalk. Wel, in Amerika word die president gekies op grond van die kieskollege – ’n groep van 538 “afgevaardigdes” wat elke deelstaat verteenwoordig.

    Elke keer dat Trump in ’n staat geseëvier het (selfs met minder as 50 persent van die stemme, maar met die meeste van al die kandidate), het hy daardie staat se hele kieskollege by sy getal gevoeg – tot hy 270 bereik het.