KwaZulu-Natalse nooddienste het vroeg Donderdagoggend bevestig dat agt mense, insluitend ’n aantal kinders, dood is nadat ’n brand by ’n weeshuis in die noorde van Durban uitgebreek het. Die vlamme het die weeshuis in Parlock heeltemal verwoes. Nooddienste en brandbestryders het ure gespook om die vlamme onder beheer te bring. ’n Woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddienste, Robert McKenzie, het gesê dat hulle ’n noodoproep rondom 02:20 ontvang het.

"In hierdie stadium dui berigte vanaf die toneel daarop dat agt mense tragies hul lewe in die vuur verloor het," het Robert volgens EWN gesê. "Talle kinders was onder die slagoffers. Die oorledenes se ouerdomme wissel tussen agt en 21 jaar oud."

Vier ander is na nabygeleë hospitale gejaag om behandeling te ontvang. Dit is nog onduidelik hoe die brand ontstaan het.

Bronne: EWN; eNCA