Twee van die 27 bouers wat aan die huis gewerk het, is steeds onder die puin vasgekeer, het die ER24-woordvoerder Luyanda Majija gesê.

Ses mense is beseer en is hospitaal toe geneem.

Vroeër het Netcare 911 gesê vyf mense is dood en agt beseer. Daar was toe nog vermoedelik nege mense onder die puin vasgekeer.

Ekurhuleni-nooddienste het gesê die getal het tot agt gestyg.

“Soos ons gesoek het, het ons nog drie lyke ontdek,” het die woordvoerder William Ntladi gesê.

“Die totaal is voorlopig agt, maar die soektog duur nog voort. Dié getal kan dalk verander,” het hy gesê.

Sekuriteit by die landgoed is streng; nie-inwoners is ondervra voor hulle toegang gekry het. Party is weggewys.

Die landgoed het die voorval bevestig.

“Vanoggend omstreeks halfelf het ’n struktuur by een van ons inwoners se huis inmekaargesak. Dit was besig om veranderings te ondergaan,” het hulle in ’n verklaring gesê.

“Nooddienste is steeds betrokke by reddingsoperasies en die geaffekteerde werkers se gesinne moet nog in kennis gestel word.”

Die Meyersdal-ekolandgoed is die eiendom waar daar verlede maand twee kameelperde verwyder is.

Die diere is agterin ’n vragmotor op die N1-snelweg vervoer en een van hulle het sy kop teen ’n brug gestamp en is dood.

Verlede week het die Gautengse departement van landbou gesê die landgoed word ondersoek oor of dit die korrekte permitte het om kameelperde in te bring en aan te hou.