Die Amerikaanse rapper, entrepreneur en mode-ontwerper Kanye West het al weer om die verkeerde redes die hoofberigte gehaal – dié keer het hy aangedring twee aanhangers moet opstaan en dans terwyl hy optree, om later uit te vind hulle is in rolstoele.

Die voorval het Vrydag plaasgevind by Kanye se konsert by die Qantas Credit Union Arena in Sydney, Australië. Hy het blykbaar geweier om aan te gaan met sy liedjie Good Life tot elke aanhanger op hul voete is.

“Geniet julle dit tot dusvêr?” het Kanye die gehoor gevra. “Ek het besluit ek kan nie die liedjie uitvoer tot almal opstaan nie.”

Die liedjie is gestaak, terwyl Kanye gesê het: “Ek gaan kan sien as julle nie opstaan nie, glo my.”

Hy het toe gestap na ’n laer deel van die arena aan die regterkant en gewys na iemand en gevra: “Is hy in ’n rolstoel?” Die gehoor het begin boe en begin skree: “Staan op! Staan op! Staan op!” Kanye wou niks weet nie en het gesê: “Daar is letterlik twee mense oor. Hulle wil nie opstaan nie.

“Dit is die langste wat ek nog moes wag om ’n liedjie uit te voer,” het die rapper omgekrap gesê. “Dit is ongelooflik.”

Hy het toe sy Duitse lyfwag, Pascal Duvier, gestuur om na die aanhangers te gaan kyk. Hy het toe vasgestel hulle is inderdaad in rolstoele.

Die rapper het toe weer die liedjie uitgevoer, dié keer met sy voet in sy mond.

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, WASHINGTONPOST.COM