Onthou jy nog “Ag Pleez Daddy”? Die man wat dié liedjie amper vyftig jaar gelede bekend gemaak het, Jeremy Taylor, is terug in Suid-Afrika – al is dit net vir ‘n rukkie.

Jeremy, wat in 1994 na Wallis verhuis het, is in die land vir ‘n paar vertonings in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria.

“Al my ou aanhangers kom na die vertoning en raai wat? Hulle onthou nog al die woorde van Ag Pleez Daddy,” vertel die 73-jarige sanger.

So, waarmee het hy homself al die jare besig gehou?

“Ons het so 10 jaar in Wallis gebly en toe na Frankryk verhuis waar ons nou woon. Ek het weer volksmusiek (folk) begin sin en dit was ongelooflik. Ek was gelukkig genoeg om die afgelope paar jaar deur Amerika en Kanada te toer. Ek het selfs ‘n bestuurder in Chicago!”

Maar moet nie gou nuwe werk uit sy pen verwag nie.

“Ek sal graag ‘n nuwe album wil opneem, maar ek dink die platemaatskappye is nie meer in my geïnteresseerd nie.,” sê hy.